Bybelgenootskap van Suid-Afrika

Die geld en besittings wat ons bymekaarmaak, kom van die Here af. Daarom behoort alles wat ons besit in die eerste plek aan Hom. Die Bybel gee die riglyn dat ons een tiende van ons inkomste as offer aan die Here moet gee vir die ondersteuning van sy werk. God het 'n blymoedige gewer lief.

"Jy moet elke jaar 'n tiende van die opbrengs van jou gesaaides, van wat op jou land groei, opsy sit: jy moet dit in die teenwoordigheid van die Here jou God eet op die plek wat Hy sal kies om sy Naam daar te laat woon. Jy moet die tiende opsy sit van jou koring, jou wyn en jou olie en dan ook nog die eerstelinge van jou grootvee en jou kleinvee, sodat jy kan leer om die Here jou God altyddeur te eer."  Deuteronomium 14:22-23

"Maar ellende wag vir julle, Fariseërs, want julle gee tiendes van kruisement en wynruit en elke soort kruie, maar verontagsaam die geregtigheid en die liefde vir God. Juis hierdie dinge moet 'n mens doen en die ander nie nalaat nie."  Lukas 11:42

Jesus het toe regoor die offergawekis gaan sit en kyk hoe die mense geld daar ingooi. Baie ryk mense het baie geld ingegooi. Daar het toe 'n arm weduwee gekom en twee muntstukkies ingegooi. Dit was baie min werd. Hy het sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: "Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander mense wat iets in die offergawekis gegooi het. Hulle het almal uit hulle oorvloed iets ingegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe." Markus 12:41-44

"Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes. Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief. En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk. Daar staan ook geskrywe: "Hy deel uit en gee aan die armes; hy bly altyd vrygewig." 2 Korintiërs 9:6-9

Baie keer redeneer ons Christene so oor die riglyn in die Bybel of ons 'n tiende moet gee of nie, dat ons uit die oog verloor dat dit eintlik gaan oor die gesindheid waarmee ons gee. Onthou vandag een ding: God het die blymoedige gewer lief.

Gebed: Hemelse Vader, dankie vir dit wat ons uit u hand ontvang. Wil U gee dat ons nooit sal vergeet dat alles wat ons het aan U behoort nie en help ons om met blymoedigheid te gee. Amen