Neville Turley

Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is gewillig, maar die vlees is swak.  Matteus 26:41

Die gebed "laat ons nie in versoeking kom nie" is vir baie Christene 'n raaisel. Laat God, wat sondeloos is, doelbewus toe dat mense in versoeking kom? Die antwoord is 'n definitiewe NEE.

In die vorige deel van die gebed leer Jesus ons om te bid dat ons sondes vergewe moet word en in hierdie deel bid ons dat ons nie aan versoeking sal toegee nie.

Regdeur ons lewens word ons deur die versoekings van die wêreld, die vlees en die bose geteister. Toe Jesus ons geroep het om Hom te volg het Hy ons nie 'n maklike pad sonder probleme beloof nie. Soos God ons na die beeld van sy Seun vorm, sal ons beproewings en versoekings beleef. Ons sal voortdurend die keuse moet maak of ons dinge doen soos God van ons verlang, of volg ons ons eie pad.

Henri-Frederic Amiel (1821-1881) die Switserse filosoof, skryf: "Versoeking is die mens se natuurlike staat, maar sonde is nie nodig nie." Ons moet gehoorsaam aan die wil van God bly.

Jesus self is deur Satan versoek. Hy was goed voorbereid vir die ontmoeting nadat hy 40 dae alleen in die woestyn deurgebring het waar Hy gebid en gevas het.

Dit is belangrik om daarop te let dat Jesus, deur uit die Woord van God aan te haal, elke versoeking van die duiwel verwerp het.

Daar staan geskrywe: “'n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom.” (Matteus 4:4)

“Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.” (Matteur4:7)

"… want daar staan geskrywe: “Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien." (Matteur 4:10)

Wanneer ons in versoeking kom, moet ons met die hulp van Gods Woord die implikasies daarvan ondersoek.

Versoekings kom dikwels op ons pad wanneer ons heeltemal weerloos is. Maak ons altyd op ons eie krag staat en probeer om dinge op ons eie manier te doen, in stede van om gehoorsaam aan die Woord van God te wees, is ons tot mislukking gedoem.

Christene moet altyd waaksaam wees. Jesus het vir sy dissipels gesê om te waak en bid. Ons moet dieselfde doen.

Gebed: Hemelse Vader, vergeef ons ons swakhede. Skenk deur u Heilige Gees aan ons die nodige krag om versoekings te weerstaan en u heilige Naam te verheerlik, ter wille van u Seun, Jesus Christus.  Amen