Neville Turley

Ek het die HERE gesoek, en Hy het my geantwoord en my uit al my vrees gered.  Psalm 34:5 (1933/1953-vertaling)

Regdeur die Bybel weerklink die oproep soos 'n refrein, "Moenie vrees nie". Die Here wil nie hê dat ons bang deur die lewe moet gaan nie.

Moenie bang wees nie is goeie raad. Dit is die raad wat ouers aan hulle kinders gee as hulle nie alleen in die donker wil slaap nie of wanneer hulle in die sorg gelaat word van iemand wat hulle nie goed ken nie. Kinders se eerste skooldag is dikwels die bewys van hoe maklik die trane vloei wanneer die bekende vir die onbekende verruil word.

Ongelukkig is dit nie veel anders wanneer ons ons kinderjare agterlaat nie. Vrees vir die onbekende gryp ons steeds aan die hart en verlam ons denke.

Ons is bang vir mislukking. Ons vrees kritiek en dat daar met ons gespot sal word. Ons vrees terminale siektes, 'n ernstige ongeluk of die onverwagse dood van 'n geliefde.

Ons vrees dat iets met ons geliefdes sal gebeur. Ons is bang dat in tye van swaarkry ons hulle nie sal kan beskerm en versorg nie.

Die waarheid is dat ons bang is vir die toekoms want ons weet nie wat op ons wag nie en ons weet nie of ons dit die hoof sal kan bied nie.

In die Bergpredikasie (Matteus 6:25-34) sê die Here dat ons ons nie moet kwel oor ons omstandighede nie, maar dat ons elke dag in God moet glo en op Hom moet vertrou.

'n Mens moet nooit die negatiewe invloed van ons vrese onderskat nie. Ons moet hulle oorwin voordat hulle verskriklike nagmerries word. Deur ons te leer dat ons ons nie moet kwel nie, nooi die Here ons uit om, deur ons verhouding met Hom, verby ons vrees en angs te kyk.

Ons almagtige Skepper is 'n groot God wat wonders doen. Maar vir diegene wat deur sy Seun verlos is, is Hy ook 'n hemelse Vader. Ons Vader het ons lief. Ons is kosbaar in sy aangesig en Hy sal in al ons behoeftes voorsien. Laat ons Hom elke dag volkome dien en aanbid. As ons dit doen, sal ons vrese, soos ons geloof toeneem, begin verdwyn en sy liefde sal in ons harte heers.

Gebed: Genadige Vader, u liefde ken geen perke nie. Gee dat u Heilige Gees ons vrese sal laat verdwyn en ons geloof in U sal laat toeneem. Dit vra ons in Jesus se Naam. Amen