Hennie Symington

Iemand wat aan Christus behoort, is ʼn nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou. Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou.  2 Korintiërs 5:17-19

Een van die grondbeginsels van ons Christelike geloof is versoening. Helaas, meer as tweeduisend jaar na Christus se koms, kon die wêreld nog nie daarin slaag om volkome vrede en versoening tussen ons naaste of die mense rondom ons te bewerkstellig nie. Dit ten spyte daarvan dat die konsep van versoening die hart van ons geloof is. Christus som dit sonder omhaal op in die woorde “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel, en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself” (Markus 12:30-31). Jesus draai geen doekies om oor wie jou naaste is nie. In hierdie paar woorde dek Hy die hele spektrum van verhoudings tussen mense.

Versoening is nie opsioneel in God se boek nie.

God het so sterk gevoel oor versoening, dat Hy sy Seun gestuur het om sy lewe te gee om hemel en aarde met mekaar te versoen. Die vraag aan elkeen van ons is: Waar staan jy? Is dit meestal ʼn geval van: Ek is lief vir God maar haat my buurman, my vyand, of enigeen wat nie inpas by my omskrywing van “ek, my en my myne” nie? Of gaan ek my laat lei deur die opsomming van die tien gebooie ongeag wat dit van my vra, so help my God?

Gebed: Here, natuurlik is ons natuurlike instink om onsself en dit wat ons as ons eie ag te beskerm. Dis so moeilik vir ons om verby ons verskille te kyk. Maar Here, U het. U het die hemel verlaat om na ʼn wêreld vol sondaars soos ek, en miljoene soos ek, te kom, om vir ons ʼn alternatiewe leefwyse daar te stel. Leer my elke dag wat dit beteken om die tweede myl in nederigheid te stap. Amen