Deur Benescke Janse van Rensburg

In 2010 was Paul Mason van Brittanje as die mees oorgewig man op aarde aangewys. Hy het 360kg geweeg. Vir hom het dit onmoontlik gevoel om gewig te verloor. Ná ’n maagverkleiningsoperasie, het hy egter 295kg verloor. Ná sy meisie egter onlangs hul verhouding verbreek het, het hy na sy ou wee teruggekeer en begin eet. Dag en nag. Hy het gou weer baie gewig begin aansit. So erg is sy eetlus dat hy onlangs gearresteer is nadat hy kos uit ’n winkel gesteel het.  

Wat sal dit vir Paul verg om weer die oortollige gewig te verloor? Waagmoed? Dissipline? Miskien dalk ook om homself as maerder te visualiseer! ’n Onlangse navorsingstudie het bevind dat wanneer jy dink jy is vetter as wat jy is, jy gewig aansit. Net so, as jy jouself as maerder kan begin visualiseer terwyl jy probeer gewig verloor, dit makliker gebeur. Waaroor jy dink het dus ’n fisiese effek op jou liggaam.

Soms bevind ons onsself in situasies soortgelyk as Paul Mason. Ons sukkel dalk nie om gewig te verloor nie, maar wel om te visualiseer hoe ’n gebroke huwelik kan verander, hoe ’n verslaafde kind vry kan kom van die verslawing of hoe ’n besigheid kan groei. Wat is die prentjie wat ons in ons geestesoog sien as ons oor ’n saak bid? Staar ons onsself vas in die “oorgewig lyf” as ons probeer gewig verloor of kan ons die “maerder lyf” in die vorm van die deurbraak begin visualiseer omdat ons glo dat niks vir God onmoontlik is?

In Hebreërs 11:1 lees ons: Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” Ook in Esegiël 37 lees ons dat die profeet van God, Esegiël ’n visioen kry waarin hy voor ’n vallei met droë bene gaan staan. ’n Hopelose situasie. God beveel hom om lewe te spreek oor die situasie. In geloof, doen hy dit. In Esegiël 37:7 lees ons die volgende: “Ek het toe as profeet opgetree soos ek beveel is, en terwyl ek dit doen, hoor ek 'n gedreun: die bene het na mekaar toe beweeg, elkeen na die been toe wat by hom pas. Terwyl ek kyk, kom daar senings en vleis aan hulle en word daar vel bo-oor getrek.” God het self sy Gees in die beendere geblaas en dit het weer begin leef.  

Ons het nodig om in geloof in ons geestesoog die deurbraak te visualiseer. Ons het nodig om daaraan vas te hou en nie toe te laat dat twyfelgedagtes ons onderkry nie. Kan jy jou gebroke huwelik sien verander in een wat gesond en gelukkig is en hoop bring aan ander? Kan jy jou verlore kind wat vêr is van God, sien waar hy met sy hande in die lug staan en God prys? Kan jy jou besigheid visualiseer op ’n plek waar die wins verdubbel? Kan jy jouself as 10kg ligter sien? Of kan jy jouself indink met die baba in jou arms waarvoor jy soveel jare gebid het?

Om die deurbraak te “sien” en lewe daaroor te praat, is om ons geloof in God te bevestig. Dit is om Hom toe te laat om sy Gees in die “dooie beendere” in ons lewens te blaas sodat dit kan begin leef. Geloof is om seker te wees van die dinge waarop ons hoop en oortuig te wees van wat ons nie kan sien nie. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek U kan prys vir U vermoë om te herstel. Versterk asseblief my geloof deur U Heilige Gees dat ek in staat sal wees om die deurbraak reeds in my geestesoog te visualiseer, wetende dat U in staat is om die onmoontlike moontlik te maak. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Sien foto’s van Paul Mason by www.benescke.co.za of op die Stories van Hoop Facebookbladsy.
  • Terugvoer: Deel gerus jou getuienis of terugvoer rondom die reeks by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. of word deel van die Stories van Hoop-gemeenskap op Facebook. Jou bydrae is vir ons belangrik.