Hennie Symington

…. Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir die armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My. Markus 10:21

Vir talle Christene is Kersfees die wagwoord vir inkopies onbeperk. Vir sommige is dit byna soos ‘n sending na die moderne inkopiekatedrale waar daar met toewyding gekoop word. Vir sommige is dit ‘n geval van, “ek koop, daarom is ek”.

Waarom is ons so versot op koop (veral in die Kkerstyd)? Is dit omdat ons vasgevang word in ‘n virtuele werklikheid wat deur die media geskep is, of het ons so materialisties geword dat ons nie eens ‘n oog knip wanneer Jesus deur die media gebruik word as ‘n slagspreuk om “hemelse roomys” en “jesus jeans” te verkoop, en dat Sondag die beste dag is om kersinkopies te doen. Het ons so gewoond daaraan geraak dat dit ons nie meer traak nie?

Dalk moet ons ons ‘n slag daaraan herinner dat Christus by kerslig, in ‘n stal (nie in ‘n vyfsterkraaminrigting nie) gebore is; dat sy eerste besoekers ‘n paar armsalige skaapwagters was. Neem jou voor om met jou kersgebruike, standpunt in te neem teen die oormatige materialisme in ‘n land waar armoede in alle bevolkingsgroepe, aan die orde van die dag is. Moenie vra, “wat moet ek nou daaraan doen?” nie. Maak jy die verskil deur Kersfees op ‘n vars nuwe manier te vier. Waarskynlik gaan niemand dit raak sien nie, maar in jou hart sal daar vrede wees. Sterkte!

Gebed: Here, sal dit nie wonderlik wees as die Jesuskind in ons harte gebore word nie? Sal dit nie wonderlik wees as ons slegs u oneindige liefde en genade kan vier wat kosteloos aan ons gegee word nie! Amen