Deur Benescke Janse van Rensburg

’n Suksesvolle entrepreneur is onlangs gevra hoe sy dit regkry om al die balle in die lug te hou. Sy is n ma, ’n vrou vir haar man en ’n besigheidsvrou. Sy het die vraag só geantwoord: “In ons lewens is daar eintlik net twee soorte balle: Rubberballe en glasballe. Die rubberballe is balle wat as dit val, die kanse goed is dat dit sal terugbons – jou werk, gesondheid, finansies, geleenthede en so meer. Die glasballe is egter geweldig kosbaar. Dit is jou familie, huwelik en geliefdes. As dít val, breek dit. Die geheim vir sukses is om jou glasballe ten alle koste te beskerm. Só sal jy gelukkig en suksesvol bly.”

Hoe lyk jou prioriteite vandag? Kan jy met gemak sê dat God eerste is, jou huweliksmaat tweede, jou kinders derde en dan die werk? Of is daar dalk glasballe wat op die grond lê?

In Matteus 6:33 lees ons immers: “ . . .beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.” En in Psalm 37:4-5 lees ons: “Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer. Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.”

Mag ons nooit ons verhouding met God en ons geliefdes laat skade ly weens ’n droom wat ons najaag of werksdruk wat oorvat nie. Onthou, ware liefde word die beste gedemonstreer in hoe jy jou tyd bestee. Wat sê jou tydsbesteding oor jou prioriteite? Sterkte.

Vader God, help my om my prioriteite reg te hou. Wys my waar ek van my glasballe moet optel en gee asseblief aan my wysheid om dit te doen voordat dit te laat is. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Terugvoer: Gesels saam by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Jy kan ook jou getuienis deel oor iets wat God in jou lewe gedoen het.