Deur Benescke Janse van Rensburg

Die markplein in Galilea was vol mense. Sommige het uit desperaatheid gekom. Ander uit nuuskierigheid. Vandag wou hulle kom kyk of die stories wat hulle van hierdie Jesus gehoor het die waarheid is. Êrens in die middel van die skare, het ’n bleek vroutjie stadig vorentoe beweeg. Vir 12 jaar lank, het sy reeds gesmeek dat God haar moes genees. Dit het nog nie gebeur nie. Al haar besittings is al verkoop om vir dokters te betaal – tevergeefs. Met ’n hart vol hoop en geloof dat sy net aan hierdie Jesus hoef te raak om haar genesing te ontvang, het sy opgedaag. Terwyl sy afsak tot op haar knieë om nader na Jesus te kruip, bly sy vir haarself fluister: “Net een aanraking is genoeg!”

In Lukas 8:46-48 lees ons dat Jesus, na haar aanraking aan sy kleed, dadelik omswaai en vra: “Wie het aan my geraak?” Vir sy dissipels was hierdie ’n vreemde vraag. Mense het immers van oral af teen Hom gedruk en gestamp. Jesus het egter antwoord: “Iemand het My aangeraak, want Ek het agtergekom dat daar krag van My uitgegaan het” (Lukas 8:46).

Jesus en die vrou se oë het ontmoet. In hare was vrees. In syne was liefde en empatie. Hy het onmiddellik geweet wat gebeur het. Hy het verstaan. En Hy het haar geloof geëer. In Lukas 8:48 sê Hy vir haar: Mevrou, jy het nou gesond geword, want jy het geglo. Gaan nou huis toe, dit sal goed gaan met jou.” (Bybel vir Almal-hersiening). Sy was volkome genees.

In ons seer, swaarkry en desperate situasies, moet ons onthou dat God, deur sy Heilige Gees, baie nader aan ons is, as wat ons dink. In Psalm 34:19 lees ons: “Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses.” Ook in Markus 11:24 sê Jesus: “Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.”

Waarvoor vertrou jy God vandag? ’n Lewensmaat of ’n baba? Dalk om jou huwelik te red? Dalk vir ’n bevordering by die werk of ’n eie huis? Of smag jy ook na genesing van jou siektetoestand? Een aanraking van God kan ons lewens ingrypend verander. Mag ons, net soos hierdie vrou, met ’n hart vol geloof en hoop in Hom, aanhou om op ons knieë na Hom uit te reik. In sy oë is nie verwyt nie, net liefde. En Hy het steeds die vermoë om die onmoontlike moontlik te maak! Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U liefde my vrymaak. Ek bring vandag (noem jou uitdaging) na U en ek vertrou dat U in staat is om die onmoontlike ook vir my moontlik te maak. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.