Deur Benescke Janse van Rensburg

’n Interessante navorsingstudie is onlangs deur twee Kanadese universiteite uitgevoer. Hulle wou bepaal of kort sessies van trappe klim deur die loop van die dag jou hartgesondheid en fiksheid kan verbeter. 

’n Groep volwassenes, wat meestal deur die loop van die dag voor ’n rekenaar of in ’n kantoor sit, is vir die navorsingstudie in twee groepe verdeel. Die eerste groep het drie keer per dag drie stelle trappe vinnig geklim. Die tweede groep mense het niks geoefen nie. 

Ná ses weke is die twee groepe se fiksheidsvlakkegetoets. Die eerste groep, was nie net fikser nie, maar ook sterker as die groep wat nie geoefen het nie. Die slotsom was dat mense wat inkantoorgeboue werk of in woonstelgeboue woon effektief hul fiksheidsvlakke kan verbeter deur bloot soggens, oor middagete of saans ’n paar trappe te klim – eerder as om net die hyser te gebruik. 

Ons geloofslewe moet ook geoefen word as ons wil beleef hoe ons geloof versterk. Op ’n gereëlde basis, kry ek gelowiges wat aan my erken dat hulle nie hul Bybels ken nie. Die vraag is dan hoe hulle dit kan verander. My uitgangspunt is gewoonlik dat indien ons die krag van God se Woord verstaan, dit vir ons makliker word om dit ’n prioriteit te maak. 

In Romeine 10:17 lees ons dat ons geloof versterk word wanneer ons die Woord van God lees – heel moontlik omdat ons God se karakter hierdeur ontdek. In Hebreërs 4:12 lees ons dat die Woord van God lewend en kragtig is: “Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg.” En in Psalm 119:105 lees ons: “U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad.” Die Woord versterk dus ons geloof, help ons met onderskeiding en vul ons met wysheid. 

Ook in Efesiërs 6:11-12 lees ons dat ons stryd nie teen vlees en bloed is nie, maar teen die bose magte in die lug. Ons kennis van God se Woord en sy beloftes, is ons wapen waarmee ons teen die vyand veg. Hoe beter ons kennis, hoe skerper is ons swaard. Hoe minder, hoe stomper is die swaard waarmee ons die oorlogsone instap.

Net soos ons trappeklim in ons dagroetine kan inbou om effektief fikser te word, kan ons daagliksbegin om God se beloftes een vir een te memoriseer om geestelik fikser kan word. Plak dit op teen jou kas of in jou motor, dra dit saam in jou broeksak of laai ’n Bybel-toep op jou slimfoon af. Lees die Woord en memoriseer dit. Hierdeur ontdek ons die Een waarrondom ons geloof draai. 

Kom ons doen moeite om God se Woord in ons harte te plaas. Kort voor lank mag ons ervaar hoe ons geloof nie net sterker is nie, maar hoe ons ook meer wysheid en onderskeiding het en hoe onsskielik die Heilige Gees se stem heelwat duideliker in ons gees sal begin ervaar. God wil met ons elkeen praat. Kom ons doen moeite om te luister! Sterkte. 

Vader God, baie dankie vir  u Woord. Lei my asseblief deur u Heilige Gees om te verstaan wat ek lees sodra ek die Bybel oopmaak. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen. 

• Vind hier ’n paar beloftes van God wat jy kan memoriseer om jouself aan te herinner in moeilike, uitdagende situasies: https://www.facebook.com/storiesvanhoop/.  Ook by www.benescke.co.za

• Terugvoer: Gesels saam by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Jy kan ook jou getuienis deel oor iets wat God in jou lewe gedoen het.

• Vir meer stories: 

www.benescke.co.za

Facebookhttps://www.facebook.com/storiesvanhoop/

Instagramhttps://www.instagram.com/storiesvanhoop/?hl=en

• Bogenoemde navorsingstudie is in die joernaal, Applied Physiology Nutrition and Metabolism, gepubliseer.