Neville Turley

Julle is 'n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, 'n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is. In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot 'n heilige tempel vir die Here,  Efesiërs 2:20-21

Daar is 'n groot verskil tussen die voorsiening van 'n huis vir 'n gesin en om hulle 'n stewige fondament met geestelike waardes te gee.

Die Bybel verskaf geen besonderhede oor die fisiese huis in Nasaret waar Maria en Josef gewoon het nie, maar ons lees wel oor hulle morele waardes. Hulle het met die baba Jesus na Egipte gevlug waar hulle asiel gesoek het om te verhoed dat Hy deur koning Herodes se soldate doodgemaak word. Hulle het eers na Herodes se dood toe dit veilig was, na Nasaret teruggekeer.

Hulle was voorbeeldige ouers. Hulle het hulle kinders liefgehad en was bekommerd oor hulle welstand. Danksy Josef en Maria, het Jesus, selfs as 'n kind, die Skrif goed geken. Danksy die gebeure by sy geboorte het hulle besef dat Jesus baie spesiaal was. Maria het dikwels daardie dinge oordink.

Jesus het in 'n godsdienstige huis grootgeword. Die gesin het gereeld in die plaaslike sinagoge aanbid en een keer 'n jaar, tydens die fees van die ongesuurde brood, die Pasga, is hulle Jerusalem toe.

Jesus het Josef en Maria dikwels verbaas en verstom. Hulle het Hom nie altyd verstaan nie, maar hulle het nie toegelaat dat Hy baasspeel nie (daardie tyd het nog nie aangebreek nie).

Na die Pasgafees in Jerusalem het die seun, Jesus, weggeraak. Sy bekommerde ouers het Hom uiteindelik in die tempel gekry. Hy is saam met hulle terug na Nasaret waar Hy gehoorsaam aan hulle was.

Dit is 'n beduidende feit dat aan die begin van sy bediening Jesus na sy tuisdorp toe gegaan het en op die Sabbat soos gewoonlik na die sinagoge. Ongelukkig het sy tuisdorp Hom verwerp. Hy het daarna na Kapernaum gegaan en sy bediening daar gevestig.

Die tipe tuiste wat ons vir ons kinders skep, is baie belangrik. "Gee leiding aan 'n jongmens oor hoe hy moet leef, en hy sal ook as hy al oud is nie daarvan afwyk nie." (Spreuke 22:6)

Indien ons aan ons kinders 'n stewige Christelike fondament gee sal hulle deur God se genade gelykvormig word aan die beeld van die Seun van God. Ons kan vir niks beter vir ons kinders hoop nie.

Gebed: Hemelse Vader, ons bid vir ons kinders en vir diegene aan wie ons hulle toevertrou. Gee dat Christus self vir hulle die ware hoeksteen sal wees, die Een op wie hulle hulle hoop vestig. Amen