Neville Turley

Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag. Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees.  Filippense 3:20-21

Ons is nou in die Lydenstyd, die 40 dae wat Paasfees voorafgaan. Sommige Christene vas in hierdie tyd om Christus se tyd van vas in die woestyn te herdenk. Dit is 'n ideale tyd vir alle Christene om oor die dood en opstanding van ons Here Jesus Christus na te dink en oor die implikasies daarvan vir ons.

Simeon se profesie dat die baba Jesus deur God bestem is tot die val en opstanding van baie word aan die kruis vervul. Die wat Hom verwerp, is verdoem. Diegene wat hulle tot Hom wend en hulle sondes waarlik bely, is gered.

Ons vers vir vandag verseker elkeen wat in Christus glo van 'n wonderlike bestemming. Deur Christus se offer aan die kruis het Hy ons van ons sonde verlos.

Indien ons voor die wederkoms sterf, sal ons siel onmiddellik by Hom in die hemel wees. Wanneer Hy egter sy koninkryk in die nuwe hemel vestig sal Hy die sterflike liggame wat ons voorheen gehad het, verander na opgestane liggame vry van enige swakhede.

Die opgestane Jesus openbaar Homself aan sy dissipels, aan individue en groepe en selfs een keer aan 500 mense. Hy doen baie wonderwerke en het selfs 'n visbraai met sy dissipels. Die apostel Johannes sê dat as alles neergeskryf is wat die opgestane Jesus gedoen het, die hele wêreld nie groot genoeg sou wees om al die rekords te stoor nie.

Jesus is ons opgestane hoop. Deur dieselfde krag waarmee Jesus opgestaan het, sal ons ook opstaan en ons sal woon in die nuwe hemel waar ons Here vir ewig sal regeer.

Die liefde van God sal nooit vergaan nie.

Gebed: Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees! (Romeine 15:13) Amen