Hennie Symington

Net by God vind ek rus, van Hom af is my redding. Psalm 62:2

Wees tevrede met wat julle het. God het self gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie. Hebreërs 13:5

Ons lewens is vol teenstrydighede: ons het groter huise, maar kleiner gesinne, ons het meer geriewe maar minder tyd, meer geleerdheid, maar minder verstand, meer deskundiges, maar meer probleme, meer medisyne maar minder gesondheid.

Ons praat te veel en bid te min. Daarby gee ons te min liefde en lieg te veel. Ons weet hoe om ʼn lewe te maak, maar weet nie hoe om te lewe nie. Ons was al op die maan maar dis te ver om oor die straat te stap om iemand te troos. Ons besit meer as wat die meeste mense dwarsoor die wêreld besit, en tog kla ons oor alles wat ons kortkom. En ja, ek terg so ʼn bietjie met die tong in die kies en ʼn stekie in die rib.

Ek dink nie hierdie teenstrydighede is ʼn probleem wat net deur die moderne mens ervaar word nie: dit was maar nog altyd so dat mense toelaat dat die lewe by hulle verbygaan sonder om daarvan bewus te wees.

Hoe kan ons dan tuis wees met ons siel?

Deur op reis te gaan. Nie in jou nuutste 4x4 of wat ookal nie, maar deur stil te sit en nêrens heen te gaan nie. Jou vertrektyd is jou stiltetyd. Vat dit kalm en en vertrek, stadig ‒ baie stadig ‒ op jou reis na binne. Vergeet van alles om jou en strek jou uit na ʼn ligpunt in ʼn donker tonnel en herhaal: “Niks kan my skei van die liefde van Christus nie.”

Herhaal die woorde totdat dit op die tafels van jou hart geskryf staan. Jy hoef nie te wonder of God in die oomblik by jou is nie. Hy is omdat Hy ons van sy teenwoordigheid verseker. “Ek is by julle al die dae van julle lewe ...” Kom dan huistoe. Kom tuis by jouself sonder die behoefte aan uiterlike vertoon en die gejaag na wind.

Gebed: Here, ons is so besig met alles behalwe dit wat regtig saak maak. Ons soek rus vir die siel, maar weier om tot stilstand te kom en innig met ons siel om te gaan en in die proses verloor ons onsself. Gee ons vrede in ons harte en vreugde in die alledaagse.