Hennie Symington

“Die eerste mens, Adam, het ʼn lewende wese geword.” Die laaste Adam het die lewendmakende gees word. 1 Korintiërs 15:45

ʼn Tuin moes God baie na aan die hart gelê het, want dit is hoe Hy die aarde geskep het ‒ as ʼn tuin waar alles in volmaakte wisselwerking met mekaar was. En toe het hy die mens geskep om daar te woon as die eerste tuinier op aarde. Meer nog: hy was God se geselskap met wie hy saans in die tuin kon wandel. ʼn Idilliese prentjie, inderdaad. Tog kry die mens dit reg om hierdie spogtuin met sy hemelse Besoeker te verloor en die perfekte hamonie tussen God en die skepping te bederf. Die gevolge hiervan was dat die mens uit die tuin verdryf is en sy pad met moeite en verdriet tussen die distels en die dorings moes vind.

Die die hunkering na hierdie volmaakte harmonie tussen Skepper en skepsel het egter in God se hart bly voortleef. Deur die geskiedenis doen God alles om sy volk met Hom te versoen. Ons lees van Abraham wat sy seun wou slag om boetedoening te doen, maar op ʼn nippertjie verskyn daar ʼn ram in die doringbos. Toe dit lyk asof God se volk in Egipte sou vergaan, verskyn daar ʼn kind in ʼn mandjie op die rivier. En toe die tyd ryp was het God ʼn nuwe loot kom plant: Sy eie Seun. En toe die Bose dit regkry om sy Seun te kruisig, staan Hy uit die dood uit op en blaas nuwe lewe in die skepping.

En nou, na baie winters, is die mens (ten spyte van ons gebrokenheid) heraangestel as God se tuinier. Ons word opnuut draers van die lente, bloeisels wat die voorlopers is van ʼn nuwe bedeling. Ons word aangestel om die aangename geur van die Evangelie te versprei en die moontlikheid op herskepping te bied want ons is self weer gebore. Vra jou af: In watter mate is jy ʼn padwyser na die Tuin? Is jy ʼn vredemaker, iemand wat die tweede myl stap, of iemand wat kies om slegs dood en verdriet raak te sien en jou hande te was aan hierdie tye?

Gebed: Here, die wêreld raak alhoemeer onherbergsaam vir die mens om in te woon. Ons soek ons heil in mag, rykdom en vertoon, in plaas daarvan om stil te staan en terug te kyk oor ʼn geskiedenis van ʼn God wat red, ʼn God wat liefhet en ʼn God wat hoor. Amen