Hennie Symington

Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd … Prediker 3:1

Vra jouself af: Is ek ʼn mens of ʼn rot op ʼn trapmeul?

Dit is ʼn uiters relevante vraag vir talle van ons wat oorwerk is met te min tyd om alles af te handel. My ouma het altyd gesê: “Van sit en staan, kom niks gedaan.”Nou vra ek maar net: Hoeveel ure se slaap verbeur jy elke nag om die verantwoordelikhede van ʼn beroep, ʼn gesin, ʼn huis, jou huwelik, die kerk en die verwagtings van die gemeenskap na te kom? Te veel om op te noem?

Troos jou daaraan, daar is raad vir die wat oorlaai en sat is vir die alewige gejaag. God se tyd is anders as ons tyd. Hy is nie vasgevang in ʼn raamwerk van vier en twintig uur, sestig minute of selfs sestig sekondes nie. Wat meer is, die verlede en die toekoms is nie ʼn beperking vir God nie. God verwag egter nie dat ons tyd moet verstaan nie, wat nog van God se tyd. Tog kry ons af en toe ʼn blik op die ewigheid wanneer ons God se teenwoordigheid op ʼn besondere manier ervaar ‒ soms in ʼn kerkdiens, soms langs ʼn oop graf, en soms in gelukkige oomblikke saam met die wat ons liefhet.

God maak dikwels gebruik van die onverwagse oomblikke om ons te bevry van die kettings van die tyd. Hierdie verposing in ons bedrywige lewens is God se manier om ons daaraan te herinner dat ons in die hier en die nou lewe. God wil graag hê dat ons bewus moet wees van elke minuut op aarde, juis omdat tyd so vlietend is.

Gebed: Here, vergewe my wanneer ek my verbeel dat die tyd aan my behoort, wanneer dit in werklikheid ʼn kosbare gawe is uit die hand van die Een wat die tye vasstel en beheer. Leer ons om die tyd uit te koop sodat ons met wysheid daarmee omgaan. Amen