Hennie Symington

… en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het. Efesiërs 4:3

Die lewe bied eindelose geleenthede aan ons om foute te maak. En dikwels word ons flaters en foute vasgevang in ons gemoed waar dit soos ʼn lastige video oor en oor in ons gedagtes teruggespeel word. Dis asof ons mislukkings en ons skandes in ons breinselle ingeprent is sodat ons elke keer weer gedwing word om terug te keer na die “misdaadtoneel”.

Helaas, om foute te maak is menslik – en ons is mos maar almal mens. Ons pad is besaai met mislukkings, gebroke verhoudings, verspeelde kanse, skerp oordele oor ander, wrede woorde, om maar net ʼn paar te noem. Dis egter nie die gereelde oortredings en harde woorde wat belangrik is nie. Dis wat jy daarmee maak wat tel. Die reaksie van ʼn volwasse Christen is om verder as jou mislukkings te kyk. Neem dus vandag jou eerste tree op hierdie pad na vergifnis en in die aanloop tot die Pase wat voorlê.

Hoe begin ek nuut? Eerstens, bely jou oortreding en neem verantwoordelikheid daarvoor. Moenie die skuld op ander pak nie. Stap twee is om te glo dat God in staat en bereid is om jou te vergewe en nooit daarna terug te verwys nie. Die belangrikste stap in hierdie proses is egter om te aanvaar dat jou sondes vergewe is. Vergeet dus daarvan en kyk vorentoe. Strek jou uit na wat voor is en vergeet van wat agterlê in die vertroue dat dat jy en God saam ʼn oorweldigende meerderheid teen die Bose vorm.

Gebed: Here, hoe dikwels word ons nie in ons wandel met U gepootjie deur die verkeerde houding, jaloesie, haat, nyd en liefdeloosheid in ons verhoudings met ander nie. Here, laat dit Pase word in my hart sodat ek kan sterf aan die eie ek, en ander hoër sal ag as myself. Amen