Hennie Symington

Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af.  ʼn Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi. Psalm 16:5-6

Ek glo dat niemand jou geluk kan waarborg nie. Selfs die grondwet kan dit nie regkry nie al waarborg dit jou reg om geluk na te streef. Tog is ons almal verslaaf aan geluk, of dan die idee van geluk. Ons is dol oor gelukkige eindes waar alles presies uitwerk soos dit moes. Ons streef die hoogtepunte na net soos die dissipels wat wou tent opslaan op die Berg van Verheerliking en basta met die wêreld. Ons smag na die oomblik in die tuin toe alles was soos God dit bedoel het. Ons is so gekondisioneer deur TV-dramas met hulle gelukkige eindes, dat ons nie kan aanvaar dat die lewe nie altyd seepglad verloop nie. In hierdie soeke na geluk beland ons dikwels in ʼn eindelose doolhof as die slagoffers van talle mislukkings, misvattings en valse beloftes oor waar geluk nou eintlik lê.

Geluk is te vinde waar jy jou bevind. Geluk is om tuis te wees in die oomblik en om met jou gevoelens, negatief of positief, kennis te maak, dit te benoem en daarvan afskeid te neem. Al die skuld, die selfhaat, die kere wat jy soos ʼn olifant in ʼn blomtuin gevoel het en mense se gevoelens vertrap het, die kere wat jy jou hard gehou het en jou eie kop gevolg en dit gestamp het. Trouens, sommer alles wat jou pla. Plaas dit in God se hand en aanskou hoe jou las ligter word. Onthou, jy is nie alleen in jou sondigheid nie: die hele mensdom ly aan die gevolge van sonde.

God bied soveel meer. Soek eers die Koninkryk van God ‒ in plaas van al die tooisels van ʼn suksesvolle lewe – en alles wat jy nodig het sal aan jou gegee word. En daarmee saam, ʼn eeu-oue waarborg wat nooit verval nie: God sorg vir jou. Jy is veilig in die palm van God se hand. En om doodseker te maak, het Hy sy Seun as waarborg gegee.

Gebed: Here, dankie dat U hemel en aarde versit het om ons te red uit ʼn lewe sonder hoop. Dankie dat U u geliefde Seun wat soos een van ons was, gestuur het om die hemel naby aan ons te bring. Amen