Hennie Symington

Ek maak my los los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Vergeet wat agter lê en strek jou uit na wat voor is. Filippense 4:14

Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir die wat Hom liefhet … Romeine 8:28

Die mens is ʼn snaakse wese. Ons kyk alewig agtertoe. “Sê nou maar ek het met iemand anders getrou?”, “Wat as ek dit in plaas van dat gestudeer het?” Die lys van “sê-nou-maars” is eindeloos.

Lot se vrou was byvoorbeeld so behep met wat agter lê dat sy in ʼn soutpilaar verander het. Ons rakel graag al die vreeslike dinge wat met ons gebeur het oor ʼn leeftyd op. Luister gerus na die gesprekke by ‘n familiebyeenkoms waar elkeen ʼn beurt kry om die ou koeie uit die sloot op te grawe.

“Jy was mos die witbroodjie ...” Of “Ek moes alewig die vuilwerk doen …” “Ek het nie die kanse gehad wat jy gehad het nie. Moes maar self sien en kom klaar.” Dit terwyl elkeen springlewendig, met ʼn dak oor die kop, en ʼn witbrood onder die arm sit.

Maar dis nou maar hoe die mens is. Ons vergeet van die “blye dae” en verlustig ons in die moeilike tye en kan ons nie losmaak van die teleurstellings, die verliese, die hartseer en die pyn wat ons ervaar het nie. En in die proses gaan die lewe verby in ʼn treurmare van verwyte en verlore kanse. Die persoon wat egter volwasse genoeg is om dit wat verby is agter te laat en hom uitstrek na wat voorlê is eintlik die gelukkige een wat weet dat elke dag uit God se hand ʼn voorreg en ʼn onherhaalbare geskenk is.

Doen afstand van die pyn. Die Here weet hoe moeilik dit vir ons is om afstand te doen van die seer wat ons ervaar het. As jy gebuk gaan onder al jou laste, skryf dit neer op ʼn stukkie papier. Lees dit hardop en vra jou af: “Wat kan ek aan ons Hemelse Vader se voete lê?” Sit dit neer en moenie terugkyk nie, want met waters wat verby is kan jy nooit weer maal nie.

Gebed: Here ons bekommer ons oor dinge waaraan ons niks kan verander nie. Leer my om my uit te strek na wat voor is sodat ek dankbaar en ligvoets deur die lewe kan gaan in die wete dat niks my kan skei van u liefde nie. Amen