Hennie Symington

“Ek verlustig my in die wêreld wat Hy gemaak het, die mense was vir my ʼn vreugde. Spreuke 8:31

As jy nou iemand lelik skrik op die lyf wil jaag, moet jy hom of haar tromp op uit die bloute vra wat glo hy of sy nou eintlik. Vir sommige is dit moeilik om wat hulle glo sommer so te omskryf terwyl daar by ander van kleins af ʼn sin vir wat is reg en wat is nodig en wat nie aanvaarbaar is nie ingeprent.

Die gebruike en uiterlike tekens van verskillende kulture en gewoontes wissel van nasie tot nasie. In Japan, waar slegs sowat 2% van die bevolking Christene is, het jy te make met ʼn hoogsbeskaafde en uiters gedissiplineerde samelewing met ʼn wedersydse respek vir mekaar sowel as mense buite hulle kultuur. Dis amper of hierdie land, wat tot laat in die 20ste eeu die keiser nog as ʼn god vereer het, iets in hulle het wat hulle saambind om ʼn ordelike en regverdige samelewing te handhaaf. Om ander te respekteer is tweede natuur. Om jou ordentlik te gedra in die publiek en nie aan die verkeerde kant van die pad of oor ʼn rooi lig te stap nie, is nie opsioneel nie. Dit word eenvoudig nie gedoen nie. Wat van rommelstrooi? Wel hier is nie vullisblikke op straat nie. Jy vat jou rommel huis toe en gooi dit in die korrekte afvalblik.

Wat van ʼn Christenland soos Suid-Afrika? ʼn Mens moet aanvaar dat etiket en goeie manier nie ʼn godsdiens is nie maar die manier waarop ons met mekaar omgaan, is ʼn duidelike refleksie van wat jy glo. Die wet en die gebooie het dit duidelik uitgespel. Jy moet jou naaste lief hê soos jou self. Ons grondwet maak selfs voorsiening daarvoor met “Gesinsdag” waar mense die geleentheid gegee word om gesinsverhoudings te herstel. En kort daarop volg “Vryheidsdag” waar elkeen die reg op ʼn regverdige bestel herdenk. Kom ons vier Gesinsdag en Vryheidsdag dus met ʼn wedersydse respek en aanvaarding van mekaar. Kom ons help mekaar om om mekaar te respekteer in die gees van “Jy is ‘n mens deur ander”.

Gebed: Here, so dikwels tree ons onbedagsaam op teenoor die wat ons as “anders” beskou. Tog het U die “Grondwet van Menseverhoudings” baie duidelik in u Woord, omskryf: Julle moet mekaar liefhê. Help my dan, Here, om my naaste lief te hê soos myself. Amen