Hennie Symington

Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe.  Efesiërs 4:3

Die lewe bied meer as genoeg geleenthede om foute te maak. En meermale word hierdie blapse en foute in ons gedagtes ingeprent waar ons hulle tydig en ontydig in ons gedagtes ophaal. Ons keer telkens terug na ons mislukkings asof niks goeds daaruit kan spruit nie. Die Woord verseker ons egter dat “ons meer as oorwinnaars” is.

Vergeet wat agterlê en strek jou uit na wat voorlê. Die mens is inderdaad ‘n eienaardige wese. Ons kyk so dikwels agtertoe en wonder “Hoe sou dit gewees het om met iemand anders getroud te wees?” Wat as ek dit in plaas van dat gestudeer het? Die lys van “wat asse” is eindeloos. Lot se vrou was so behep met wat agterlê dat sy in ‘n soutpilaar verander het. Ons rakel graag al die slegte dinge wat met ons oor ‘n leeftyd gebeur het op. “Jy was mos die witbroodjie!”. Of “Ek moes mos altyd die vuilwerk doen.” “Ek het nie die geleenthede gehad wat jy gehad het nie.” “Wat as ek dit in plaas van dat gestudeer het?”  En dit terwyl ons springlewendig is met ‘n dak oor ons kop en ʼn witbrood (figuurlik gesproke) onder die arm. Dis maar hoe die mens is. Ons vergeet dikwels die “blye dae” terwyl ons ons verlustig in die moeilike tye. Ons koester dikwels die moeilike tye, die teleurstellings, ons verliese en die pyn en lyding wat ons ervaar het. In die proses beweeg die lewe verby ons in ‘n klaaglied van beskuldigings en verspeelde kanse. Die een wat egter volwasse genoeg is om die verlede agter te laat en hom of haar uit te strek na wat voorle, is die een wat weet dat elke dag uit God se hand, ʼn voorreg en ʼn onherhaalbare geskenk is.

Lê jou las neer. Die Here weet hoe moeilik dit vir ons is om die pyn en moeite wat ons ervaar het, agter te laat. As jy gebuk gaan onder jou laste, skryf dit neer op ʼn vel papier (ʼn grote indien nodig). Lees dit dan hardop deur (meer as eenkeer indien nodig) en vra jou af: “Wat kan ek aan die voete van my Hemelse Vader laat?” Skeur dan jou lys in repe en strooi dit in die wind (as jy langs die see woon, strooi dit in die water) en moenie terugkyk nie, want “met waters wat verby is, kan jy nooit weer maal nie.”

Gebed: Here, ons hou ons besig met dinge wat ons nie kan verander nie. Leer my om my uit te strek na wat voorlê, sodat ek elke dag ligvoets kan betree vry in die wete dat niks my kan skei van die liefde van Christus nie. Amen