Hennie Symington

Hy sê toe vir hulle: “Ek het baie daarna uitgesien om hierdie paasmaaltyd saam met julle te eet voordat ek ly.” Lukas 22:15

Paasfees is ʼn tyd om op reis te gaan ‒ nie na Pringle-, Gans-, Sand- of enige ander baai nie. Dit is ʼn innerlike reis gevul met onrus, waar jy stap vir stap die passie van Christus op die kruispad meemaak. Dit is ʼn reis wat jy nie durf misloop nie, want meer as enige ander Christenfees, is dit die fees wat ons konfronteer met die essensie van ons Christelike geloof.

Die kruis as die simbool van die Christelike geloof, is die kruispunt tussen hemel en aarde. Dit kon nie eenvoudiger gewees het nie: ʼn vertikale lyn as die verbinding tussen hemel en aarde, en die dwarsbalk wat uitreik na die wêreld. En aan die kruis, die somtotaal van al die liefde wat een mens vir sy medemens kan hê.

Die vraag is, hoe kan ons as skeptiese, postmodernistiese Christene wat alles bevraagteken en alles weeg en te lig bevind in terme van geloofwaardigheid, iets ervaar van Christus se passie? Juis deur dit met passie te vier ‒ nie net as ʼn sameloper of ʼn toeskouer nie, maar as ʼn bewoë deelnemer.

Gebed: Vader, gee dat ons ons op die vooraand van Pase sal voorberei om die grootsheid van die kruisiging en die opstanding opnuut te begryp en te beleef. Amen