Hennie Symington

Terwyl Hy saam met hulle aan tafel was, neem Hy die brood, vra die seën, breek dit en gee dit vir hulle. Toe gaan hulle oë oop, en hulle het Hom herken, maar Hy het uit hulle gesig verdwyn. Lukas 24:30-31

Gelukkig is die man wat aan die maaltyd in die koninkryk van God kan deelneem. Lukas 14:15

Wat beteken die nagmaal? Christene wat dit reeds vir meer as 2000 jaar herdenk, beskou dit as die kenteken en kern van die Christelike geloof. Wanneer ons nagmaal gebruik word ons daaraan herinner dat die brood wat ek eet nie myne is nie. Dit is “ons” daaglikse brood wat ons ondermekaar verdeel sodat ons saamgebind kan word in ʼn gemeenskap van gelowiges in die bede dat niemand honger mag ly as daar brood is nie.

Ontvang die onverganklike brood. Die gemeenskap aan die tafel van Christus, leer gelowiges dat hulle op aarde steeds die verganklike brood op hulle aardse tog eet, maar as hulle hierdie brood met ander deel, sal hulle ook van die onverganklike brood saam in die Vaderhuis eet. En terwyl ons nagmaal gebruik word ons geroep om dit met blydskap en vreugde te geniet. God gun ons die vreugde van saam eet as gelowiges. “Gelukkig is die man wat aan die maaltyd in die koninkryk van God kan deelneem,” lees ons in Lukas 14:15b.

Gebed: Here, wanneer ons nagmaal gebruik, open ons oë vir die nood van elkeen wat saam met ons die nagmaal gebruik. Gee dat ons dit met vreugde sal gebruik en nie as ʼn manier om ander uit te sluit nie. Amen