Hennie Symington

Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom. Jesaja 53:5

Die kruis is die draaipunt van die mensdom se geskiedenis. Alles wat dit voorafgegaan het, wys daarheen, en alles daarna verwys terug na die kruis. Ongeveer 700 jaar voor Jesus Christus na die plek van die skedel gelei is, het Jesaja die kruisgebeure voorspel in so ʼn duidelike woordprentjie dat almal behalwe die blindes onder ons Hom sou herken wanneer Hy, God se Seun in die vlees, aarde toe sou kom. En meer as 2019 jaar later kyk die hele wêreld terug op daardie gebeure wanneer paasfees op elke kalender van die ooste tot die weste aangedui word, en wanneer duisende mense die strate van groot stede oor die hele wêreld invaar met palmtakke en mekaar groet met: “Hy het opgestaan! Hy het waarlik opgestaan!”

Toe daar aan die begin van die twintigste eeu ʼn man met ʼn lantern deur die strate van Europa gehardloop het en die dood van God verkondig het, sou hy nooit kon droom dat daar aan die begin van die derde millennium steeds miljoene mense oor die hele wêreld na kerke toe sou stroom om Jesus se Opstanding te gedenk nie.

Die kruis is egter nie net die keerpunt in die geskiedenis van die mens nie. Dit is ook ʼn keerpunt in elkeen van ons se lewens. Vir Christene word die opstanding nie net beskou as iets wat ver in die verlede plaasgevind het nie, maar iets wat daagliks ervaar word as ʼn persoonlike ontmoeting met Christus en ons by die kern van die Christelike geloof bring. Kortom, Christus se kruisiging en opstanding is die finale openbaring van God se reddingsplan vir die mens. Vra jou af: Hoe pas jy in hierdie plan in?

Gebed: Here, laat hierdie dae vir ons heilig word wanneer ons opnuut aangeraak word deur die lyding en sterwe van Christus. Gee dat ons ook in ons eie geloofslewe ʼn “opstanding” en nuwe lewe in ons binneste sal ervaar. Amen