Hennie Symington

As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe; as julle dit nie vergewe nie, word dit nie deur God vergewe nie.” Johannes 20:23

Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. Kolossense 3:13

Die dag toe die steen weggerol is voor die graf van Jesus, was die dag toe die skepping nuut gebore is – en daarmee saam menslike verhoudings en die kwytskelding van sondaars. Dit het trouens ʼn hele omwenteling in die sosiale orde van die tyd te weeg gebring. In plaas van die midde-oosterse konsep van ʼn “oog vir ʼn oog, en ʼn tand vir ʼn tand” (onthou julle nog die Wet van Hammurabi?) tree ʼn hele nuwe sosiale orde in. In navolging van Christus, verkondig die gemeente vergifnis en in plaas van die politiek van vergelding, tree die politiek van aanvaarding in. Op die manier word die kerk die baanbreker in ʼn nuwe tydvak. Natuurlik is dit ʼn byna onbegonne ideaal om na te streef. Maar, maan die Woord in Romeine 12:18: “As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.” In plein Afrikaans beteken dit, doen jou bes om “nice” (medemenslik) te wees.

Die mens is natuurlik lief daarvoor om ʼn wrok in die hart te vertroetel – soms vir jare. Tog word daar van ons, in die naam van Christus, verwag om die moontlikheid op versoening en herstel na te streef. Trouens, in ʼn wêreld vol haat en wrok, neem ons behoefte aan die vergifnis van die teleurstellings, die verliese, die hartseer en die pyn wat ons ervaar voortdurend toe. En in die proses gaan die lewe wat God ons geskenk het verby in ʼn treurmare van verwyte en verlore kanse. Die mens wat volwasse genoeg is om dit wat verby is agter te laat en hom uitstrek na wat voorlê, is die gelukkige persoon vir wie elke dag uit God se hand ʼn voorreg en ʼn onherhaalbare geskenk is.

Gebed: Here, soms klou ons aan ons pyn soos ʼn kleintjie aan sy knus kombersie en vergeet dat alle mense pyn ervaar. En dat U trouens, die ergste pyn van die sonde van die wêreld deur die dood moes dra – ter wille van ons. Amen