Louise Gevers

Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.  Habakuk 3:17-18

Dink 'n mens aan die talle kere wat Eskom nie daarin kon slaag om elektrisiteit aan ons land te lewer nie, kan jy vergewe word as jy verdwaas staan en geensins kan sien watter positiewe bydrae hulle lewer of wat daar is om te vier nie. Elke kragonderbreking wat ons daaglikse lewe onderbreek en ons dwing om voort te stry en wat 'n uitdaging vir die welsyn van ons land is, laat dieselfde ontmoedigende beeld van onvrugbaarheid en onproduktiwiteit by 'n mens opkom as wat in vandag se teks beskryf word.

En tog het ons, soos Habakuk, die keuse om nie net op hierdie donker situasie te fokus nie, maar soos hy kan ons kies om te sê: "nogtans sal ek in die Here jubel." God wat in die eerste plek lig gemaak het, roep ons "uit die duisternis … na sy wonderbare lig" (1 Petrus 2:9), wat ons in staat stel om moeilike situasies anders te beskou, met hoop in ons harte. Dit is moontlik om in moeilike tye dinge te vier, want ons het reeds baie kere ondervind: "… dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is." (Romeine 8:28)

Ons vier moeilike omstandighede as geleenthede om op God te fokus, en as 'n herinnering om daagliks te bid om die krag van die Gees te ontvang. Ware bestudering van en insae in die Bybel sal ons help om die wysheid en antwoorde te ontdek om hierdie moeilike tye te kan hanteer. Ons moet getrou vir ons land met sy baie probleme bid; doen ons dit nie sal ons net soos die Israeliete in die woestyn aanhoudend kla. Dit het God kwaad gemaak want hulle het gekies om Hom te verwyt, en Hy het dit gesien as die verwerping van geloof in sy goedheid en krag. (Numeri 11:1)

Paulus sê vir die Filippense: "Doen alles sonder kla of teëpraat. Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense." (Filippense 2:14-15) Elke beproewing wat ons moet verduur, bied aan ons die geleentheid om selfbeheersing te beoefen en vir God te vra om ons te help om ons houding te verander en sy genade oor ons nasie uit te stort. Om ons te help om op te hou kla wanneer korrupsie met al die moeilikhede wat dit veroorsaak, ons uitdaag en oorweldig en eerder, as 'n positiewe, inspirerende uitkoms, vir die situasie te bid. Dit sal ons harte reinig en ons nader na die Vader bring. En dit is iets om te vier!

Daar is reeds tekens van hoop in Suid-Afrika se donker situasie. Die terugslae wat ons deel, verenig ons en help ons om ons gemeenskaplike behoefte aan krag en lig te verstaan. Dit help ons ook om empatie te toon met diegene wat steeds in die duister is. Ons rig ons vertroue op die ware Bron en wanneer kragvoorsiening weer betroubaar is, sal almal saam met groot vreugde 'n ware wonderwerk vier.

Gebed: Vader, in U is daar geen duisternis nie, want duisternis is vir U lig. Ons vier u volgehoue goedheid in moeilike tye. Gee dat die lig van u Gees in ons harte sal skyn en ons met wysheid en begrip vir elke situasie sal vul, sodat ons U in ons land kan verheerlik. Amen