Louise Gevers

Jubel, hemel! Juig, aarde! Sing vrolik, berge! Die Here het vir sy volk uitkoms gegee, Hy het Hom ontferm oor sy volk wat in nood was. Sion sê: “Die Here het my verlaat, die Here het my vergeet.” Kan 'n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie. Ek het jou naam in my handpalms gegraveer, … Jesaja 49:13-16

In die Bybel beteken "dink aan" meer as om net aan iemand te dink. Dit beteken om ander met liefde te behandel en vir hulle om te gee. Wanneer jy klein en in die moeilikheid is, voel jy verlore en alleen. Die enigste gesig wat jy wil sien, is die van die persoon wat jou liefhet en wat alles sal regmaak. Diep binne in ons, is volwassenes nie juis anders nie. So, om te weet dat God ons nie vergeet nie, is definitief 'n rede om te vier. Sy krag is onbeperk; Hy is die enigste een wat dinge regtig kan regmaak. Hy plaas 'n nuwe perspektief op die beproewinge en probleme wat dikwels daartoe lei dat mense aan Hom twyfel.

God benadruk dit dat Hy omgee. Hy het die name van sy kinders in sy handpalms gegraveer. Israel het soms gevoel dat die Here hulle vergeet het, of dat Hy ver verwyderd was omdat Hy vir hulle kwaad was. Sy diepe toewyding en onmeetbare liefde vir almal, kom egter duidelik na vore in die Bybel. Wanneer ons sondig, of Hom vergeet, is dit makliker om te sê dat die Here nie teenwoordig is nie of nie omgee nie, eerder as om net die waarheid te stoei.

Was Noag verward in die ark? Hy en sy gesin – agt mense al te saam – en al die diere, voëls en ander wesens is gespaar van die vloed wat die aarde vernietig het; maar vir 'n honderd en vyftig dae het hulle in die stortreën op die waters rondgedobber sonder enige bewys dat God hulle nie vergeet het nie. Dit moes vir hulle oneindig lank, en by tye hopeloos, gevoel het. Maar God se plan was om nie die getroue man te vergeet wat, ten spyte van al die gespottery wat hy moes verduur, sy bevele so getrou nagekom het nie. "Toe het God gedink aan Noag en aan al die wilde diere en die mak diere wat by hom in die ark was, en God het 'n wind oor die aarde laat waai, en die waters het teruggetrek." (Genesis 8:1)

Figuurlik gesproke bevind jy jou dalk in dieselfde situasie as Noag: jy mag God se leiding gevolg het, maar bevind jou nou in 'n storm wat baie dae of maande duur, met geen einde in sig van jou verknorsing nie. Moet jy nou aan Hom of aan jou gehoorsaamheid twyfel, want tot nou toe sien jy geen teken dat Hy jou nie vergeet het nie?

Moet nie moed verloor nie. Regdeur die Bybel is daar verwysings dat die Here aan gewone mense, soos ons, dink. Hy verander nooit nie; Hy sal dieselfde vir ons doen. Hy het aan Abraham gedink en sy broerskind gered; (Genesis 19:29) aan Ragel (Genesis 30:22) en Hanna (1 Samuel 1:19) en aan hulle kinders gegee; aan die Israeliete in hulle slawerny (Eksodus 2:23-25) en hulle bevry; aan die Romein, Kornelius, en het aan hom die evangelie gegee. (Handelinge 10) Hy dink aan ons almal en sal ons help; bestudeer sy Woord.

Gebed: Here, U sien dwarsdeur my, U ken my. Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom. Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit, U is met al my paaie goed bekend. Daar is nog nie 'n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees. (Psalm 139:1-4) Here, ek verheug my dat U my nie vergeet nie en dat U my liefhet en U oor my ontferm. Amen