Louise Gevers

Juig tot eer van die Here, almal op aarde! Dien die Here met blydskap! Kom voor Hom met gejubel! Erken dat die Here God is: Hy het ons gemaak en ons is Syne, ons is sy volk, sy eie kudde. Psalm 100:1-3

Om God se outonomie te vier, bevry ons harte en bied aan ons beskerming. Ons het 'n basiese begrip van die lewe wat om God draai en dat ons dit kan vertrou. Ons is wie ons is omdat Hy "het (ons) gevorm, (ons) aanmekaargeweef in die skoot van (ons) moeder … want (Hy) het (ons) op 'n wonderbaarlike wyse geskep." (Psalm139:13-14) Hy het ons na sy beeld gemaak en aan ons die kapasiteit gegee om deur Jesus Christus te groei om al hoe meer soos Hy te word. Hoe wonderlik is dit nie!

Daar is oral om ons bewyse van God. Ons bestaan nie in 'n vakuum nie; sy ingewikkelde ontwerp is aan die werk in die natuur en ook in ons. Ons sien elke dag hoe Hy die son toelaat om op beide goed en sleg te skyn en lewe aan alles gee, en ervaar hoe Hy vir ons 'n dieper begrip van sy liefde gee. Dit maak nie saak of dit jy, ek, Nebukadnesar, Daniël of wie ook al is nie – God het ons lief net soos ons is en dit is hoe ons Hom deur sy Seun antwoord, wat ons lewens bepaal. Hy roep ons daar waar ons is. Hy kyk na ons harte.

Nebukadnesar is bekend daarvoor dat hy die hangende tuine van Babel gebou het, een van die sewe wonders van die antieke wêreld. Hy was 'n magtige, onverskrokke heiden. Die Here het hom toegelaat om Jerusalem in 586 v.C. te verower en koning Jojakim en die slimste jongmanne uit die koninklike geslag gevange te neem, asook sommige tempelskatte te neem wat hy wou gebruik om sy eie gode te aanbid. En toe, ironies, het God Homself deur een van die gevangenes aan Nebukadnesar geopenbaar.

Hierdie gevangene was Daniël, een van die jong edelmanne uit Israel wat Nebukadnesar na Babel weggevoer het. Hy was 'n jongman wat gekies het om God se wette te gehoorsaam, groente en water verkies het bo die ryk kos en wyn wat van die koning se tafel aan hom voorsien is en wat aan die afgode geoffer is. God het hierdie beskeie man gekies wat Spreuke 16:7 beklemtoon: "As die Here tevrede is met 'n mens se lewe, laat Hy selfs so 'n mens se vyande in vrede met hom lewe."

God het Nebukadnesar se behoefte deur Daniël se getrouheid beantwoord. Hy het Daniël in staat gestel om die droom wat Nebukadnesar gehad het vir hom te vertel en ook uit te lê – iets wat sy eie wyse manne nie kon doen nie. Hierdie prestasie het daartoe gelei dat Nebukadnesar van God gesê het: “Werklik, julle God is die grootste van al die gode, Hy heers oor die konings en Hy openbaar geheime, want jy kon hierdie geheim bekend maak.” (Daniël 2:47)

Daniël het nie gekies om gevang te word nie, maar hy het geweet dat God ten volle in beheer is. God het aan hom vryheid in sy gevangenskap gegee en 'n meer bevoorregte posisie as die koning self.

Gebed: Here, U het ons gemaak en ons behoort aan U. U neem nie net die persoon aan nie, maar werk in wonderlike maniere in ons lewens. Help my om u doel in my lewe te herken enu wysheid te vier. Amen