Louise Gevers

Op hoogmoed volg ondergang, op selfverheffing volg die val.  Spreuke 16:18

Daar is baie rugbyspelers wat van die bynaam "Os" hou, maar hulle sal verseker nie 'n grasdieet wil volg om daardie titel te bekom nie. Daar is 'n groot verskil tussen die hou van 'n titel en wat werklik gedoen moet word om die reg tot so 'n titel te bekom; en die houer van die titel is miskien nie altyd wyser as sy raadgewer nie, of selfs so beskeie as hy nie. In baie gevalle is dit net die wysheid van God alleen wat die balans kan herstel wanneer prioriteite verdraai word.

Ons lees hoe koning Nebukadnesar die Here geloof het as "die grootste van al die gode" nadat God Homself deur Daniël geopenbaar het en sy probleem opgelos het; maar soos Nebukadnesar se rykdom toegeneem het, so ook het sy hoogmoed toegeneem. Soos 'n mens meer volwasse word, wens jy soms dat jy kan teruggaan skool toe om vanuit jou huidige perspektief sekere kennis te gaan herleer, maar dit is selde moontlik. Nebukadnesar het geen so 'n begeerte gehad nie, maar toe hy so verwaand geraak het oor sy eie talent en oorgeloop het van selfbelangrikheid, het die Here besluit dat dit tyd is vir hom om 'n blaaskans van sewe jaar te neem – om sy hart te verander.

Sewe jaar is volgens enige standaarde 'n lang tyd. Dit is hoe lank dit vir 'n baba neem om op te groei tot 'n leergierige sewejarige om te begin skoolgaan, of vir 'n avokadoboom om sy eerste vrugte te dra, maar die wag is die moeite werd.

Nadat Daniël nog 'n droom vir Nebukadnesar uitgelê het, was sy onmiddellike woorde: "Daarom, U Majesteit, luister na my raad: breek met u sonde en u ongeregtigheid, doen wat reg is en bewys barmhartigheid teenoor dié wat in nood is. Dan sal u voorspoed aanhou.” (Daniël 4:27) Maar Nebukadnesar was onwillig om homself te verneder, en het selfs later toe hy op die dak van sy paleis geloop het, gesê: "Kyk net hoe groot is Babel! Deur my groot mag het ek daarvan 'n koningstad gemaak, tot my eer en roem.” (Daniël 4:30)

God het beide Nebukadnesar en Daniël op verskillende maniere geseën, maar Nebukadnesar se arrogansie het hom egter verhoed om erkenning te gee aan die ware Bron van sy seëninge. Daarom het God hom verneder deur hom letterlik vir sewe jaar soos 'n os te laat gras eet. Hy is deur die samelewing verwerp en stadig maar seker het Nebukadnesar tot sy sinne gekom, en later teruggekom met 'n nuwe en tevrede houding: "Ek het die Allerhoogste geprys, ek het Hom wat ewig leef, geloof en geëer. Aan sy heerskappy is daar geen einde nie, sy koninkryk bestaan oor al die geslagte heen." (Daniël 4:34)

God gee aan elkeen van ons die geleentheid om, ten spyte van omstandighede, iets van ons lewens te maak. Daniël het sy beskeie posisie aanvaar en het in belangrikheid toegeneem, terwyl Nebukadnesar eers verlaag moes word voordat hy dit wat God aan hom gegee het kon vier. “Ek het in dié tyd my verstand teruggekry, en my koninklike waardigheid, my eer en majesteit is aan my teruggegee. My raadgewers en hoofamptenare het my opgesoek, my koningskap is herstel en ek het selfs meer mag gekry as tevore. Ek, Nebukadnesar, prys en eer en loof die Koning van die hemel. Alles wat Hy doen, is reg, sy optrede is regverdig. Hy het die mag om hoogmoediges te verneder.” (Daniël 4:36-37) Daniël het voortgegaan om 'n voorbeeldige lewe te lei en God het hom geseën.

Gebed: Vader, ons verskil nie veel van Daniël en Nebukadnesar nie. Seën ons met wysheid en geloof om, beskeie of belangrik, bo ons omstandighede te kan uitstyg en om deur u genade nederig tot eer van u Naam te leef. Amen