Louise Gevers

Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet. Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê.  Johannes 15:12-13

Ons mag dink dat liefde net 'n gevoel is, maar Jesus se opdrag aan sy dissipels om mekaar lief te hê soos Hy hulle liefgehad het, beteken liefde deur aksie, vol opoffering en sonder om die koste te bereken. Hy het sy dissipels soos Homself liefgehad, en Hy koester dieselfde hoë verwagtinge van sy volgelinge as wat Hy van Homself verwag het. Jesus het sy lewe gewy aan die integriteit van die liefde wat gelei het tot sy offer aan die kruis.

Van die tyd dat Hy sy regmatige plek in die hemel prys gegee het om sy Vader se wil op aarde te volbring, was sy lewe 'n viering van sy liefde vir ons. Sy werk en invloed in hierdie wêreld ken geen gelyke, voor of na sy koms, want niemand het nog ooit die mensdom so liefgehad dat hy bereid was om vir ons sonde te sterf nie. Niemand, behalwe "Jesus Christus, die regverdige" (1 Johannes 2:1), was goed genoeg om dit wat ons die Heilige God verskuldig is, te betaal. "'n Mens gee tog nie sommer jou lewe prys nie, selfs nie vir 'n regverdige nie. Ja tog, vir 'n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe. Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was." (Romeine 5:7-8)

Geen ander geloof praat van so 'n groot liefde as wat ons Skepper aan ons bewys het nie. Ons vier hierdie ongelooflike liefde in die Paastyd. Ons verheug ons in die hoop wat Jesus Christus aan ons bring deurdat Hy sy lewe vir ons gegee het, opgestaan het en die ewige lewe saam met God moontlik maak vir elkeen wat in Hom glo. "Christus is tog die einde van die wet, sodat elkeen wat glo, vrygespreek kan word." (Romeine 10:4)

In die woorde van 'n moderne geestelike lied word Christus se liefde vir ons gevier, “Death is dead, love has won, Christ has conquered!” Jesus se grootste liefdestaak het die skeiding wat sonde tussen God en die mens gebring het, vir ewig vernietig. “Geseënd is die mense wie se oortredinge nie gestraf word nie en wie se sonde vergewe word. Geseënd is die mens vir wie die Here die sonde nie toereken nie.” (Romeine 4:7-8)

Jesus se liefde dring ons, want dit wat Hy vir sy vriende gedoen het, is Hy ook bereid om vir almal te doen, nie soos ons wat dikwels diskrimineer nie. Deur almal dieselfde te behandel, ignoreer Hy enige vooroordele en bewys Hy sy gewilligheid om enigeen wat in nood na Hom toe kom, te help.

Hy het medelye met almal gehad en almal verwelkom wat die samelewing verwerp het: melaatses, vroue, die blindes, bedelaars, die verlamdes, diegene wat polities nie aanvaarbaar was nie, en nog baie meer. Hy het duiwels uitgedryf, die weduwee se seun uit die dood opgewek, asook sy vriend Lasarus. Hy het nie gevra waar hulle vandaan kom en of hulle geld gehad het om te betaal nie – Hy was liefde in aksie. Jesus het bewys dat liefde nie slegs 'n gevoel is nie, maar belangrik genoeg is om deur lyding daaraan uitdrukking te gee.

En ons vier hierdie liefde.

Gebed: Vader, ons erken dat die grootste liefde in onselfsugtige opoffering sigbaar word, maar dit is nie vir ons maklik nie. Help ons om meer en meer soos Jesus te leef, dat sy liefde in ons sigbaar sal wees. Amen