Louise Gevers

Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van 'n mens of die besluit van 'n man nie, maar hulle is uit God gebore.  Johannes 1:12-13

Die formele erkenning van menseregte om mense in die samelewing te beskerm kom verskeie kere in die geskiedenis voor; die Tien Gebooie, die Magna Carta, die Verenigde Nasies se aanvaarding van die Universele Verklaring van Menseregte, en die skryf van verskeie Grondwette, om maar net 'n paar te noem. Sedert 1994 beskik Suid-Afrika oor 'n Grondwet wat gelyke regte aan al sy inwoners beklemtoon, en 'n spesiale Menseregtedag is ingestel om die belangrikheid van 'n samelewing sonder diskriminasie te bevorder en te vier.

Beteken dit dat almal nou vreedsaam saamleef en mekaar se regte erken? Nie noodwendig nie, maar dit baan die weg vir die regte denke om dit te kan bereik. 'n Grondwet is net so goed as die wil van die mense wat dit moet uitvoer. Strukture mag in plek gestel word, maar menslike aksies bepaal die sukses of mislukking daarvan. Dit geld ook in ons geloofslewe. God het die Tien Gebooie aan sy volk gegee as basiese riglyne, en later het Hy 'n volledige stel wette voorsien wat met al die morele, fisiese en geestelike aspekte van hulle lewens verband hou; maar die aksies van mense sou die uitkoms bepaal.

Miga se woorde is 'n raak opsomming van God se verwagting oor hoe die mens regverdig moet leef: "Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God." (Miga 6:8)

Die Here gee om oor mense se verhouding met Hom en met mekaar. Wanneer jy waarlik “jou naaste [liefhet] soos jouself.” (Lukas 10:27) sal jy hom nooit kwaad aandoen nie, maar hom behandel met die waardigheid waarmee jy self behandel wil word. Dit is regverdig. Jy vergewe hom wanneer hy iets verkeerd aan jou doen, want jy wil graag dat hy jou vergewe as die skoen aan die ander voet is. Dit is deernis. Doen jy dit, leer jy nederigheid. Wanneer ons God en sy wet minag, is ons buite voeling met ons eie menslikheid en ons naaste ly daaronder.

Jesus se koms na die wêreld toon 'n ander dimensie van God se deernis en sorg: waar ons die ewigheid gaan deurbring is vir Hom net so belangrik as ons welsyn hier op aarde. Jesus het gesterf om boete te doen vir die sonde van die wêreld, en dit het die Koninkryk van die hemele geopen vir almal wat in Hom glo. Ons het die reg om te kies.

“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. (Johannes 3:16) Deur in Jesus te glo, gee God aan elke mens op aarde die reg om sy kind te word en deel van sy gesin. Stel jou voor die implikasies hiervan in wêreldse terme: God is groter as eninge keiser, koning of magnaat en Hy bied aan ons iets wat geen geld kan koop nie. Jesus sê: “Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan. (Johannes 5:24)

Gebed: Genadige Vader, ons vier met blydskap die regte wat U aan ons geskenk het, en wat ongeëwenaard in hierdie wêreld is, en ons verheug ons daarin dat "U troon, verhewe wese, staan vir altyd vas, met u koninklike septer laat u geregtigheid geskied." (Psalm 45:7)  Amen