Louise Gevers

Ek is gretig om u gebooie te gehoorsaam, want U verryk my lewe.  Psalm 119:32

Geen tydperk in die geskiedenis was vry van verdrukking nie. Die geveg vir vryheid is 'n voortdurende stryd wat ons hartsnare aanraak, want om van gebondenheid of knegskap vrygestel te word, bring groot vreugde. Soms verkeer mense in 'n gevangenskap, regverdig of onregverdig, en pleit om vryheid. Tog al is mense nie in die gevangenis of word nie onderdruk nie, beteken dit nie noodwendig dat hulle vry is nie. Oral word mense, figuurlik gesproke, onderdruk en geen Menseregte kan hierdie natuurlike kettings verbreek nie.

Vryheid is die begeerde staat wat jou in staat stel om, sonder beperkings of vrees, te doen en sê wat jy wil, en om daardeur selfvervulling en waardigheid te geniet. Dit skep die potensiaal om gelukkig te wees, en maak vryheid iets om te vier en met almal te deel. Mense wat vryheid ontsê word, voel minderwaardig en raak soms ongelukkig en gefrustreerd met diegene wat dit nie beleef nie.

Paulus, 'n toegewyde Fariseër, is gedryf deur vooroordeel en moordgedagtes ten opsigte van die nuwe Christene. Op daardie stadium was hy nie objektief nie want sy haat het hom verblind. Op die Damaskus-pad het Jesus hom vrygemaak van sy blindheid en dit het hom vir altyd verander. Hy het later die Galasiërs oor hierdie ware vryheid onderrig. Jesus het hulle waarlik vry gemaak en hulle was nie langer onderhorig aan die Ou Testamentiese wette nie. "Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder 'n slawejuk laat indwing nie." (Galasiërs 5:1) Net soos Paulus en die Galasiërs, laat ons soms toe dat 'wettige' dinge ons gevange hou en ons ware vryheid ontsê.

Jesus beklemtoon die belangriheid daarvan om ons los te maak uit die wurggreep van die sonde wat ons vrede versteur en ons van ewige vryheid beroof. “Dít verseker Ek julle: Elkeen wat sonde doen, is 'n slaaf van die sonde. 'n Slaaf bly nie vir altyd by 'n huisgesin nie; 'n seun bly vir altyd. Eers as die Seun julle vry maak, sal julle werklik vry wees." (Johannes 8:31-32)

Slegs Jesus, die Seun, kan die kettings breek wat ons van vryheid beroof: trots, bygeloof, vrees, angs, besittings, verslawing, humeur – enigiets wat 'n houvas op ons het. Jesus beklemtoon die belangrikheid van die waarheid as die sleutel tot vryheid: "Toe sê Jesus vir die Jode wat in Hom glo: “As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.” (Johannes 8:31-32)

Ons moet van valshede bevry word, want dit verblind ons. Slegs dan sal ons die waarheid ken, en die vreugde ervaar van 'n hart wat vry gemaak is, en ware vryheid kan vier. Andersins kan ons enigiets wat ons wil hê besit, en nogtans ontdek dat dit geen bevrediging bring nie, want dit besit ons.

Is jy vry om vryheid te vier?

Gebed: Dierbare Vader, dankie dat U my deur Jesus Christus vry gemaak het en daardeur my hart vul met groter blydskap as wat ek gedink het moontlik is. U Woord is waarheid en gee aan my presies wat ek benodig om regverdig en betekenisvol te leef; help my asseblief om u Woord beter te verstaan. Amen