Louise Gevers

Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” Lukas 23:34

Ons kan maar net wonder watter uitwerking hierdie kosbare woorde wat Jesus aan die kruis geuiter het, op Petrus gehad het. Die feit dat hy sy Here verraai het, moes hom seker baie swaarmoedig laat voel het, en om toe te hoor hoe Jesus by God pleit om hierdie mense wat Hom so wreed doodmaak te vergewe, moes Petrus sekerlik vertroos het. Later het Hy ook gehoor hoe Jesus die misdadiger aan die kruis vergewe en hom bemoedig met die woorde: “Ek verseker jou: "Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” (Lukas 23:43)

Petrus was die een wat gevra het: “Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?” (Matteus 18:21), waarop Jesus geantwoord het: “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer." (Matteus 18:22) Jesus se woorde bewys hoe verskriklik belangrik Hy vergifnis ag. Vergifnis is onbeperk. Ons moet dit omhels, al vind ons dit ook hoe moeilik om ander te vergewe, of miskien glo ons dat ons nie vergewe kan word vir dit wat ons verkeerd gedoen het nie. Die hemel is vir diegene wat vergewe is, soos die misdadiger aan die kruis uitgevind het.

Onvergewensgesindheid is 'n hindernis in ons pad, wie jy ook al is, of jy nodig het om te vergewe of om vergewe te word. Om vry te wees, moet ons Jesus volg. Hy is die volmaakte voorbeeld van dit wat Hy ons oor liefde en vergifnis geleer het. Jesus het met hart en verstand uitgereik na ander. Te midde van ongelooflike lyding en opoffering, het Hy erkenning gegee aan sy onregverdige moordenaars en gepleit dat die Vader hulle moet vergeef, en op die manier 'n voorbeeld vir ons gestel om dieselfde te doen.

Onvergewensgesindheid is ook 'n ernstige hindernis in ons gebedslewe. Jesus leer ons dat wanneer ons bid, ons genadig teenoor ander moet wees, want dit beїnvloed hoe ons vergewe sal word: "en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree" (Matteus 6:12), en “… wanneer julle staan om te bid, en julle het iets teen iemand, vergewe hom; dan sal julle Vader wat in die hemel is, julle ook julle oortredings vergewe.” (Markus 11:25)

Jesus illustreer die belangrikheid van vergifnis in die gelykenis van die ongenadige amptenaar wat, nadat die koning hom vrygestel het van die miljoene rand wat hy geskuld het, nie 'n medeamptenaar wat hom 'n klein bedraggie geskuld het, kon vrystel nie. (Matteus 18:23-35) Jesus leer ons dat onvergewensgesindheid ons bind en dat dit tot bitterheid lei wat lewens en verhoudings verwoes, maar dat vergifnis die geskenk is wat ons vrymaak. Verbly ons ons in hierdie waarheid?

Paulus sê aan die Kolossense: "Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe." (Kolossense 3:13)

Martin Luther King Junior verwys na vergifnis as 'n "konstante houding".

Gebed: Vader, ons vier die wete dat Jesus gesterf het sodat ons die vreugde, vrede en vryheid kan ervaar wat u vergifnis bring. Dankie dat Hy die bande verbreek van alles wat ons gevange hou, en ons vrymaak om ander te vergewe. Amen