Louise Gevers

Sonder ophou moet hulle u groot goedheid verkondig en oor u reddingsdade jubel. Genadig en barmhartig is die Here, lankmoedig en vol liefde. Die Here is vir almal goed en barmhartig oor alles wat Hy geskep het.  Psalm 145:7-9

God se goedheid en regverdigheid is elke dag rede om te vier. Ons benodig, en ontvang, sy onfeilbare ontferming en goedheid wat elke môre nuut is. (Klaagliedere 3:22-23) Hy gee aan ons 'n splinternuwe begin. Ons kry die geleentheid om erkenning te gee aan die goeie dinge wat ons gelukkig maak om te lewe: ons het lief en word liefgehê; ons bely ons sondes en ontvang sonder koste vergifnis; ons het 'n vrye wil en 'n doel in die lewe. Ons hoef nooit probleme alleen te hanteer nie, want God beloof om ons nooit te verlaat nie.

Goeie dinge gebeur met ons wat ons graag wil vier en in blydskap en liefde met ander wil deel deur saam te eet, te lag en te dans en herinneringe te skep. Ons vreugde is groot en ons dank God want hierdie genot oorskry alle verwagtinge. Hierdie feesvieringe, in watter vorm ook al, lei tot herinneringe wat ons saambind en wat 'n deel van ons word.

Hierdie element van suiwer genot en oorgawe is sigbaar in die beskrywing van Dawid in 2 Samuel 6:14-15: "Met volle oorgawe het Dawid voor die Here gedans met net 'n linneskouerkleed aan. Hy en die hele Israel het die ark van die Here met gejuig en onder die geklank van die ramshoring ingebring." Dit het niks te make gehad met die feit dat Dawid belangrik of dronk was nie. Dit was 'n uitsonderlike viering van God se grootheid wat Israel met onbeskryflike vreugde vervul het en daartoe gelei het dat Dawid kos laat uitdeel het vir elke persoon in die skare, voordat hy huis toe is om sy gesin te seën.

Is hierdie mate van Dawid se vrygewigheid van gees in reaksie op God se oorvloedige goedheid nie soorgelyk aan dit wat ons in die Kerstyd beleef nie? Die Koning van alle konings is gebore en regoor die wêreld word sy geboorte gevier, en ontelbare lewens word, in reaksie op God se kosbare geskenk, deur hierdie seisoen van liefde en vrygewigheid aangeraak. Ons beleef die waarheid van Jesus se woorde: "Om te gee, maak 'n mens gelukkiger as om te ontvang” (Handelinge 20:35) en ons vier sy genade.

Hierdie godsdienstige feestyd en vakansiedae is 'n spesiale vreugdevolle tyd waarop ons soms baie geld en moeite spandeer, terwyl 'n gewone braai met familie net so 'n groot viering kan wees van ons liefde vir mekaar en die waardes wat ons deel. Want 'n ware fees is te danke aan God se goedheid. Dit het baie min te make met wat ons kan spandeer, maar alles met sy genade wat Hy oor ons uitstort en wat almal kan ondervind.

Gebed: Liewe Vader, elke goeie gawe kom van U. Dankie dat U my so oorvloedig seën en my lewe vul met u eindelose liefde en genade. Gee dat ek dit elke dag sal vier. Amen