Louise Gevers

Dit is goed om die Here te loof, om u Naam te besing, Allerhoogste, om elke môre van u liefde te getuig, en elke aand van u trou, … U groot dade, Here, het my baie bly gemaak, ek wil juig oor wat U gedoen het. Psalm 92:2-3,5

'n Dankbare hart is 'n blye hart.

Wanneer jy jou oë in die oggend oopmaak, besef 'n mens dit is 'n nuwe dagbreek; die geskenk van 'n nuwe dag uit die hand van ons Skepper om te leef, lief te hê, te huil, te lag en met ander te deel. Die wêreld sal uitdagings bied, nuwe geleenthede om oor na te dink en ook kanse om ons te verheug in al die wonders om ons. Ons moet dankie sê. Doen ons dit, sal vreugde ons harte vul terwyl ons 'n nuwe dag verwelkom.

Dankbaarheid is een van die lewe se loutere vreugdes: iets om elke dag te beoefen. Dit is so belangrik dat ons selfs ons kinders, sodra hulle iets in hulle handjies kan vashou, leer om dankie te sê. Waardering vir al ons seëninge help met die ontwikkeling van 'n gesonde verhouding waarmee ons die lewens van ander positief kan aanraak. Wanneer dankbaarheid afwesig is, gebeur die teenoorgestelde. Ons aanvaar dinge as vanselfsprekend wat later in 'n houding van aanspraak en reg ontwikkel.

Om dankie te sê is 'n eenvoudige manier om die goedheid en voorsiening vir alles wat ons van ons Hemelse Vader ontvang, te vier. Of Hy nou met sy dissipels geët het, of die skare gevoed het, Jesus het groot waarde hieraan geheg. (Matteus 15:36; Johannes 6:11; Lukas 22:17,19) Wat interessant is, is dat nadat Jesus God gedank het vir die sewe brode en die paar klein vissies, is dit gebruik om die menigte van 4 000 mense te voed, en sewe mandjies vol het oorgebly – 'n inspirerende voorbeeld van wat kan gebeur in die lewens van diegene wat Jesus volg en in dankbaarheid en in geloof leef, of hoe?

Dit is wat Fanny Crosby, die skrywer van 9 000 liedere gedoen het. Sy het Paulus se raad in 1 Tessalonisense 5:18 gevolg: "Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag."

Fanny het op die ouderdom van ses weke deur die fout van 'n dokter blind geword, maar sy het later gesê: "God het geen fout gemaak nie. Ek glo vas dat dit sy wil is dat ek my lewe in fisiese duisternis moet deurbring … om my beter voor te berei om sy lof te besing en ander aan te moedig om dit te doen. Ek sou nie duisende liedere kon skryf … " Sy het ondanks haar tragiese omstandighede onvoorwaardelike geloof en blydskap in God se plan vir haar lewe gehad en Hom vir alles gedank. Sy het "gesien" dat sy 'n onwankelbare koninkryk [sou] ontvang." (Hebreërs 12:28)

Laat ons ook alles met blydskap vier en "Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil, want ons God is 'n verterende vuur." (Hebreërs 12:28-29)

Gebed: Ons Vader, dit is so goed dat ons U deur Jesus Christus kan dank vir al u goedheid en genade. Skenk aan ons genoeg geloof om U in alle omstandighede te kan dank en dit in dankbaarheid te kan vier.  Amen