Louise Gevers

Here, gee my die woorde om u lof te verkondig. 'n Offer vra U nie, anders sou ek dit bring; 'n brandoffer wil U nie hê nie. Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging: U sal 'n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God. Psalm 51:17-19

Dawid was nie noodwendig 'n groot persoonlikheid omdat hy 'n koning was nie, maar wel omdat hy nederig was, en ook gereed om sy sonde te bely. Dit het bewys dat Hy 'n man na waarde was, 'n man na God se hart. (1 Samuel 13:14) Alhoewel God hom koning gemaak het, en sy volk hom bewonder en met liefde behandel het, was hy tog nederig genoeg om te erken dat hy verkeerd gedoen het. Hy het erken dat, wanneer dit by sonde kom, God nie spesiale voorregte aan sommige mense gee omdat hulle belangrik is nie. Soos enige ander persoon, moes Dawid ook sy verkeerde dade teenoor die Here belei sodat hy vergewe en herstel kon word.

Sy belydenis is 'n bewys van die diepte van sy verhouding met God: "Wees my genadig, o God, in u troue liefde, wis my oortredings uit in u groot barmhartigheid! Was my skoon van my skuld, reinig my van my sonde! Ja, my oortredings ken ek en van my sonde bly ek altyd bewus. Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë. U uitspraak is dus reg en u oordeel regverdig." (Psalm 51:3-6) Dawid het besef dat sonde teen sy medemens is sonde teen God, en selfs vir 'n koning is dit nie 'n verskoning om agter weg te kruip nie.

Salomo se grootheid het sy oorsprong in sy nederigheid terwyl hy die opdragte uitgevoer het wat sy vader, Dawid, aan hom voorgeskryf het: "Noudat ek die pad van alle mense moet gaan, moet jy sterk wees en soos 'n man optree. Hou jou aan wat die Here jou God jou voorskryf en lewe daarvolgens. …"(1 Konings 2:2-3) Salomo het sy liefde vir die Here, soos Dawid, op 'n buitengewone manier bewys: op 'n keer het hy 'n duisend brandoffers by Gibeon geoffer aangesien die tabernakel daar teenwoordig was. Hy het nog nie Dawid se insig gehad nie, maar dit getuig van sy begeerte om die Here te dien. Hierna het God in 'n droom aan Salomo verskyn en aan hom gesê dat hy enigiets van die Hom kan vra.

Salomo kon groot krag en rykdom van God gevra het, instede erken hy sy swakheid vir die groot taak wat op hom wag om God se volk te lei en hy sê: "… maar ek is nog jonk en onervare en ek moet regeer oor die volk wat deur U uitgekies is, 'n groot volk, te veel om te tel. Gee my die gehoorsaamheid aan U dat ek u volk reg sal regeer en in alles insig sal hê,…" (1 Konings 3:7-9) God was bly oor Salomo se antwoord en het hom beloon met rykdom en aansien soos niemand voor hom gehad het nie. Hy het ook aan hom 'n lang lewe beloof as hy, soos Dawid gehoorsaam sou wees en God se gebooie onderhou. Hy het Salomo ook geseën met die voorreg om die tempel te bou. Hierdie voorreg en Salomo se groot wysheid het aan hom roem en prag gebring en onder sy heerskappy was die volk van Israel en Juda gelukkig en het hulle 'n tyd van oorvloed beleef.

Ongelukkig het nie eers Salomo se wysheid hom altyd teen die sonde beskerm nie. Sy buitelandse vroue het hom op dwaalweë gelei en hy het hulle afgode aanbid. Niemand is bo versoeking en sonde verhewe nie, maar deur Dawid se voorbeeld van nederigheid, leer ons dat wanneer ons ons sondes bely, ons seën ontvang en kan ons die vreugde vier dat ons deur God se vergifnis en genade herstel is. As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. (1 Johannes 1:8-9)

Gebed: “Skep vir my 'n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig. Moet my tog nie van U af wegdryf en u Heilige Gees van my af wegneem nie! Laat my weer die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is, laat my U weer met toewyding dien. (Psalm 51:12-14). Ek vier u goedheid en genade en verbly my in groot sorg vir my. Amen