Louise Gevers

In al my gebede bid ek altyd met blydskap vir julle almal, omdat julle van die eerste dag af tot nou toe saamgewerk het aan die verkondiging van die evangelie. Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom. Filippense 1:4-6

Ek het die krag en die teenstrydighede van die Christelike geloof lief en ek vier dit: ongelooflik, God, die Skepper van die wêreld, word vrywillig die offer om die wêreld te red. Sy volgelinge moet sterf om te kan leef, is sterk wanneer hulle swak is, het hulle vyande lief en verneder hulleself om verhoog te word. God se wette en die aard van die vyand verlang dat die Christen homself teen die bose beskerm deur waarheid en geregtigheid te gebruik en bereid moet wees om die evangelie te verkondig. Die Christen moet ook die onsigbare wapens van geloof, verlossing, die Woord en gebed opneem. (Efesiërs 6:14-18)

Dit is belangrik om saam te werk sodat die missie kan slaag om die goeie nuus van verlossing te versprei, en blydskap en groei te bring. Christene is primêre teikens vir die duiwel se aanvalle. Deur mekaar lief te hê en te ondersteun, kan ons in moeilike tye vas staan in die geloof, teëstand bied en 'n verenigde front vorm teen die vyand wat rondloop "soos 'n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind." (1 Petrus 5:8) Op hierdie manier is ons ook getuienisse in die wêreld.

Toe Jesus op aarde was, het Hy gebid vir mense wat deur die boodskap van die dissipels in Hom sou glo. Hoe wonderlik om dit te lees en te besef dat Hy vir ons gebid het. “Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom. Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. (Johannes 17:20-21) Alle sukses is in antwoord op sy gebed.

Ons veg daagliks die stryd van geloof vol blydskap soos koning Josafat wat oorlog toe is – sonder 'n enkele sigbare wapen – maar met dankbaarheid en 'n hart vol lof en aanbidding teenoor God. (2 Kronieke 20:12,22) Ons weet wat die uitkoms van daardie geveg was en wat die uitkoms van ons geveg sal wees: Jesus het reeds die dood oorwin en sal die duiwel aan die einde van tyd oorwin. (Openbaring 20:10)

Maar tot dan moet ons ons weg vind deur beproewing en verdrukking terwyl die duiwel sy volgelinge mobiliseer om hulle bes te doen, op watter manier ook al, om ons af te sleep en ons geloof te vernietig. Soos soldate in 'n geveg, of Comrades Marathon-atlete op die pad, ons moet mekaar help: daar is altyd iemand wat mank loop, gewond is of reg om oor te gee. Dink aan diegene wat op kritieke tye daar was om jou te help, wat jou bemoedig het en jou gehelp het om jou geloof te versterk.

Alhoewel dit 'n felle stryd is, kan ons vertrou dat God die goeie werk wat Hy in ons begin het, sal voleindig. Tans werk Hy nog in ons lewens.

“Julle is die lig vir die wêreld. 'n Stad wat op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek 'n mens nie 'n lamp op en sit dit onder 'n emmer nie maar op 'n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.” (Matteus 5:14-16)

Gebed: Here, ons is bly en ons vier die feit dat die stryd aan U behoort, die enigste Een wat magtig, betroubaar en waar is en dat dit ons taak is om U voortdurend te dank en prys vir u goedheid. Amen