Louise Gevers

Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid. Hebreërs 13:8

Alle mense is soos gras, alles waarop hulle staatmaak, is soos 'n veldblom: gras verdor en blomme verwelk as die Here sy wind daaroor laat waai.” Dit ís so, die volk is soos gras. Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van ons God bly vir ewig. Jesaja 40:6-8

Herfs in die Wes-Kaap is 'n pragtige tyd met blomme en blare wat groener word na die eerste reën en dit is ook die seisoen met vars oggende en sonnige dae. Almal op aarde weet, "Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd: daar is 'n tyd om gebore te word, 'n tyd om te sterwe …" (Prediker 3:1-2)

Seisoene kom en gaan, elkeen uniek en ryk aan prag en belewenisse. Dit is ook waar van elkeen van ons, maar die woord van God is nie net hier vir een seisoen nie – dit is vir ewig. Dit bevat die essensie van God wat ons grondslag is vir hierdie wêreld en die wêreld wat kom. Die Bybel bevat alle riglyne wat ons nodig het vir ons lewe hier op aarde en om die ewigheid te bereik.

Die skrywer van die Prediker boek, skryf die boek aan die einde van sy lewe. Hy het al die verskillende ondervindings van die lewe beleef en hy besef dat daar in ons 'n spanning met tyd is. Tyd is hoe ons lewe hier op aarde gestruktureer word, en tog leef ons met 'n besef van die ewigheid wat tydloos is. Die skrywer besef dat God self het "aan die mens 'n besef gegee van die onbepaalde tyd" (Prediker 3:11), en hy sê: "Ek het tot die insig gekom dat daar vir 'n mens niks beter is nie as om vrolik te wees en die goeie van die lewe te geniet. Dat die mens kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet, ook dit is 'n gawe van God." (Prediker 3:12-13)

Danksy die Woord weet ons op hierdie stadium in tyd soveel meer. Ons kan leef en speel; ons kan hard werk en iets bereik; ons kan dinge waarneem en verskillende tye en geleenthede in ons lewe vier, en tog word ons diep binne in ons nie daardeur bevredig nie.  Dit is die verskil tussen die tydelike en die ewigheid. Dinge wat vir hierdie aarde bedoel is, het beperkte waarde want hulle is tydelik van aard, terwyl dit wat vir die ewigheid bedoel is, vir ewig is en die ware skat is.

Dit is die Een wat gister en vandag en tot in ewigheid dieselfde is, wat gesê het: “Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. (Matteus 6:19-20) Dit is slegs wanneer ons in 'n daaglikse verhouding is met Jesus, wat in die ewigheid woon, dat ons in hierdie lewe werklik vervulling sal ken. Alles wat ons hier op aarde doen sal dan 'n doel hê en ware vreugde bring, maar die ware beloning is die ewigheid.

Paulus bemoedig die Korintiërs soos volg: "Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie." (1 Korintiërs 15:58)

Gebed: Here Jesus, ons vier en verheerlik U as die ewige Lewende Woord. Dit is u teenwoordigheid in ons lewe wat die skat van 'n tydlose skakel tussen die aardse bestaan en die ewige lewe is, en dit is 'n rede om elke dag te vier. Dankie dat U by ons is in elke seisoen van ons lewe. Amen