Xanthe Hancox

U laat my by 'n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos 'n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid. U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae. Psalm 23:5-6

Het jy al opgemerk hoeveel keer daar na kos in die Bybel verwys word? Regdeur die Ou en die Nuwe Testament is mense besig om te vas, fees te vier of die oes in te samel. Ons vier omtrent elke moontlike geleentheid met kos, en dit was nie anders in die bybelse tye nie. Maaltye was dikwels spesiale geleenthede om bymekaar te kom en met mekaar te deel. My gunsteling tye is wanneer ons saam met vriende en familie braai of probeer om nog een persoon op 'n wankelende kampstoeltjie by die tafel te laat aansit. Ek glo dit lê die Here na aan die hart daar waar Hy vir ons 'n feesmaal voorberei. (Psalm 23:5)

Kos word egter die meeste geniet wanneer ons regtig honger is. As jy die heel dag by die kantoor skyfies en koek geëet het, gaan jy nie jou voedsame aandete regtig waardeer nie. Dit is ook waar van ons geestelike lewe. As ons ons lewe met wêreldse dinge vul, gaan ons nie honger wees vir die geestelike voedsel wat die Here vir ons voorberei nie. Hoe groter ons honger en dors is na dit wat God ons bied, hoe groter sal die bevrediging wees. Die 1933/53-vertaling van Lukas 1:53 stel dit baie mooi: "Hongeriges het Hy met goeie dinge vervul en rykes [diegene wat hulle lewe met wêreldse dinge vul] met leë hande weggestuur.

Hoe honger is jy vir die feesmaal wat die Here vandag vir jou voorberei het? Hy verheug Hom in die voorbereiding van die feesmaal, maar ons moet na Hom toe kom en kom aansit en eet van al die voedsel wat Hy vir ons voorsit.

Kom sluit by my aan om in Junie die voedsel en feeste van die Bybel van nader te bekyk en om ons siele te voed met alles wat die Here aan sy tafel vir ons voorsit.

Gebed: Here, ek is jammer dat ek soms eet van die dinge wat nie my siel voed nie. Dankie dat U vir my 'n feesmaal voorberei. Gee aan my 'n groter honger vir U en vir dit wat my waarlik sal bevredig. Amen