Xanthe Hancox

Elke man sal onder sy eie wingerd sit, ongesteurd onder sy vyeboom. Die Here die Almagtige het dit gesê. Elke nasie kan maar lewe in die naam van sy god, ons sal vir altyd in die Naam van die Here ons God lewe. Miga 4:4-5

Ek is mal oor kookprogramme. MasterChef Australia, The Great British Bake Off, noem maar op en ek het dit gesien. Maar ek hou die meeste van daardie programme waar iemand Italië of Frankryk besoek, en dan uiteindelik daar, tussen die groen wingerde, 'n wonderlike ete kook. Absoluut perfek!

Dit is die soort vrede en oorvloedige blydskap wat by my opkom wanneer ek die profeet Miga se beskrywing lees van die lewe in die koninkryk van God wat Jesus hier op aarde sal vestig wanneer Hy weer kom. Ander Bybelgedeeltes beskryf 'n soortgelyke prentjie. In Jesaja 65:21-22 lees ons: "Dan sal mense huise bou en self daarin woon, hulle sal wingerde plant en self die druiwe eet. Hulle sal nie huise bou waarin ander sal woon nie, hulle sal nie wingerde plant waarvan ander die druiwe sal eet nie. …" As jy my vra, klink dit na 'n baie beter hemel as om op 'n wolk te sit en 'n harp te bespeel.

Alhoewel ons nie hierdie volkome vrede sal beleef totdat Jesus sy koninkryk hier op aarde gevestig het nie, kan ons – selfs nou reeds – tekens sien van God se volhoubare sorg vir ons en 'n kykie kry op sy werk tussen ons hier op aarde. Die druk en die vinnige pas van die lewe word verhoog deur die verterende haat tussen nasies waarvan ons daagliks in die nuus hoor. Maar vir almal wat gered is, sê die Bybel: "En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus." (Filippense 4:7) Ons het 'n Herder wat oor ons die wag hou, en daar is geen rede om bang te wees nie. Ons weet dat alhoewel daar vyandskap tussen die nasies is, en ons baie probleme in ons lewe ondervind, God almagtig is en sy koninkryk vir ewig sal seëvier.

Gebed: Here, wanneer ons bang is, maak ons bewus van u liefdevolle sorg en u kragtige teenwoordigheid. Help ons ook om te onthou dat U aan ons ewigdurende vrede in oorvloed beloof het. Amen