Xanthe Hancox

Sy het geantwoord: “Ek het niks in die huis nie behalwe 'n erdekannetjie olie.” Hy het toe gesê: “Gaan leen nou by al jou bure leë kruike, en sorg dat jy nie te min leen nie. Dan gaan jy in jou huis in, maak die deur agter jou en jou seuns toe, en gooi elkeen van hierdie kruike vol olie. Soos elkeen vol word, moet jy hom wegpak.”  2 Konings 4:2-4

Indien jy vandag 'n minuut of twee te spaar het, wil ek jou aanmoedig om die volledige verhaal van die weduwee se oliekruik te lees. Dit is nie baie lank nie, maar dit is 'n wonderlike verhaal van geloof in die donkerste tye.

Klapperolie is deesdae baie gewild. Ek gebruik dit van slaaiolie tot haaropknapper. In Elisa se tyd was olyfolie die wonderbestanddeel. Dit was een van die vernaamste bestanddele vir alledaagse gebruik. Dit was bruikbaar as vuurmaakgoed, salf, medisyne en om mee te kook.

Wanneer die weduwee vir Elisa sê dat sy net 'n klein bietjie olie oor het, sê sy eintlik dat wanneer haar kannetjie leeg is, is haar laaste bron vir lig, hitte, medisyne en voedsel daarmee heen. Haar enigste uitweg sal dan wees om haar seuns as slawe te verkoop, sodat sy skuld kan betaal en hulle nie van honger sal omkom nie.

Geen wonder sy vra die profeet om hulp nie!

Maar Elisa gee nie vir haar 'n handvol munte nie. Hy vra haar wat sy het. Daardie vraag verander haar wanhoop in hoop. Sy besef dat sy hulpbronne het: olie en 'n God wat vir haar omgee. Die wonderwerk wat gebeur is omdat sy onthou dat God steeds in haar lewe teenwoordig is, en dat Hy steeds oor haar en haar gesin die wag hou.

Gebed: Vader, hoor asseblief ons lofsange, sowel as ons geroep om hulp. Ons weet dat U ons altyd bewaak en vir ons omgee. Help ons om eerder dit wat ons het, in plaas van dit wat ons ontbreek, raak te sien. Amen