Xanthe Hancox

“Meneer,” antwoord Simon, “ons het die hele nag deur geswoeg sonder om iets te vang, maar op u woord sal ek die nette uitgooi.” En toe hulle dit doen, het hulle so 'n groot klomp vis gevang dat hulle nette wou skeur.  Lukas 5:5-6

Gister het ons gelees van die weduwee in Elisa se tyd wat slegs 'n bietjie olie oorgehad het, maar met die hulp van die Here het sy elke kannetjie wat sy in die hande kon kry, gevul. Die dissipels in Jesus se tyd, het hulle in 'n soortgelyke situasie bevind. Hulle het die hele nag geswoeg, maar niks gevang nie. Op Jesus se aanbeveling het hulle die nette nog 'n keer uitgegooi.

Enige van die omstanders kon hulle vertel het dat dit net so 'n dom ding was as om baie kannetjies uit een klein kannetjie te probeer vul. Jy kan nie vis in die middel van die dag in die diep waters vang nie! Maar net soos die weduwee Elisa vertrou het en kannetjies by haar bure gaan vra het, het Petrus en die ander dissipels Jesus vertrou en hulle nette uitgegooi. Die gevolg was ongelooflik!

God se voorsiening en sy liefde vir ons, is oorvloedig. Hy het ons nie net in klein druppeltjies lief nie, maar in strome wat vloei. God se liefde vir ons is nie net soos 'n enkele klein vissie nie, maar soos bote wat feitlik sink so swaar is die vangs.

Of jy nou 'n nuwe Christen is, of reeds vir jare 'n volgeling van Jesus is, Hy roep ons om God se genade en liefde ruimhartig met ander te deel.

Gaan gooi die nette uit! Kom dan en volg Jesus, terwyl ons die goeie nuus van God se liefde versprei.

Gebed: Jesus, dankie vir u wonderlike liefde. Help ons om die mense wat vandag oor ons pad kom, met u oorvloedige liefde lief te hê. Amen