Xanthe Hancox

Toe sê Jesus vir hom: “Daar was 'n man wat 'n groot maaltyd gegee en baie mense uitgenooi het. Toe die maaltyd gereed was, stuur hy sy slaaf om vir die genooides te sê: ‘Kom, die maaltyd staan klaar.’ Maar hulle begin almal, die een na die ander, verskoning maak. Die eerste sê vir hom: ‘Ek het 'n stuk grond gekoop en dit is noodsaaklik dat ek uitgaan om daarna te kyk. Ek vra u, verskoon my asseblief.’  Lukas 14:16-18

Jesus het net so dikwels na 'n feesmaal verwys, as wat Hy dit bygewoon het. Hy het op 'n keer 'n verhaal vertel van 'n man wat 'n groot maaltyd voorberei het waarheen hy baie gaste uitgenooi het. Die uitnodigings is vooruit gestuur en mense het onderneem om te kom. Die silwerware is opgevryf, tafels is gedek, en fantastiese disse is voorberei. Die diensknegte is uitgestuur met die finale aankondiging: "Kom, die maaltyd staan klaar."

Maar hier op die nippertjie het al die gaste baie onbeskof teenoor die gasheer opgetree, en verskonings gemaak om dit nie by te woon nie.

Die gasheer het toe sy banketsaal gevul met mense wat gewoonlik nie sulke uitnodigings ontvang het nie, mense wat as gevolg van 'n gestremdheid of een of ander rede, uitgesluit is van sodanige sosiale funksies. Toe die gaste aangesit het, was daar by sommige tafels nog plek. Die gasheer het toe sy diensknegte gestuur om absoluut enigiemand wat hulle kon vind, te bring om dié plekke te vul. Toe kon die groot fees begin.

Die Here nooi ons om deel te hê aan sy koninkryk, wat hier as 'n feesmaal uitgebeeld word. Sy koninkryk bied aan ons die grootste geskenk: die ewige lewe.

Maar ons moet nie dink dat hierdie groot fees net 'n wegneemete van 'n kitskosrestaurant is nie. Dit is nie iets wat ons vinnig kan geniet terwyl ons met ander sake besig is nie.

Om Jesus te volg, verlang lojaliteit en volkome toewyding aan Hom. Diegene wat dit wil doen, moet kom.

Wat doen jy met Jesus se uitnodiging?

Gebed: Vader, ondersoek ons harte, verwyder alle verskonings en stel ons in staat om vandag nog u uitnodiging tot verlossing te aanvaar. Ons bid dit in die Naam van Jesus. Amen