Xanthe Hancox

Toe hy 'n ruk later terug is Timna toe om met haar te gaan trou, het hy afgedraai om na die geraamte van die leeu te gaan kyk. Daar was 'n swerm bye met heuning in die karkas. Hy het heuning in sy hand gevat en daarvan geloop en eet. Toe hy by sy ouers kom, het hy vir hulle ook gegee, en hulle het geëet, maar hy het hulle nie vertel dat hy die heuning uit die karkas van 'n leeu gekry het nie. Rigters 14:8-9

Die storie van Simson se raaisel is een van die vreemdste gedeeltes in die Bybel. Simson is onderweg om 'n meisie wat hy in die dorp opgemerk het, te gaan ontmoet. Sy ouers is by hom en hy word deur 'n leeu aangeval. God gee aan hom bonatuurlike krag en hy skeur die leeu uitmekaar. 'n Ruk later, op pad om met die meisie te gaan trou, loop hy verby die leeukarkas waarin 'n swerm bye nes gemaak het. Hy haal van die heuning uit en stap verder na sy troue.

Simson het nie vir sy ouers vertel dat die heuning uit die karkas kom nie want op daardie stadium was die karkas van 'n dooie dier as onrein beskou. (Levitikus 11) Nieteenstaande hierdie wet, het Simson tog van die heuning geëet en vir sy ouers daarvan gegee. So het hy homself en sy ouers onrein gemaak.

Tydens die troue het Simson vir die plaaslike jongmans 'n raaisel oor soetheid gevra. Die mans kon nie die raaisel oplos nie en het Simson se nuwe vrou gedreig. Sy het vir haar lewe gevrees en het Simson gesmeek, by hom geneul en hom lastig geval todat hy dit vir haar vertel het—en toe vertel sy dit vir die Filistyne.

Die prys as hulle die raaisel regraai, was 30 linnehemde en 30 stelle klere. Verraai en woedend is Simson na Askelon waar hy 30 Filistyne doodgeslaan het en hulle klere geneem het om sy skuld te betaal.

Simson was kwaad, maar hyself was die oorsaak van die probleem. Hy het die heuning uit die karkas geskep, iets wat geen gelowige Israeliet ooit aan sou raak nie. Heuning uit 'n leeu se karkas? Eet dit! 'n Filistynse vrou? Gee haar vir my! Deur homself en sy ouers onrein te maak, het nie vir hierdie verlosser van Israel saak gemaak nie.

Baie jare later het Jesus, die ware Verlosser, verduidelik dat dit wat mense werklik onrein maak in hulle harte is en nie dit wat hulle eet nie. (Markus 7:1-23) Simson het homself onrein gemaak deur weg te draai van God en sy eie begeertes na te jaag en te doen wat reg was in sy eie oë. Maar Jesus het ons sondes op Homself geneem, ons skoon gewas en aan ons 'n nuwe lewe gegee.

Gebed: Here, ons sien so baie van onsself in Simson. Ons is hardkoppig, arrogant en ons vul dikwels ons harte met dinge wat ons skade kan aandoen. Dankie dat U ons skoon was. Amen