Xanthe Hancox

“Maak asseblief tien dae lank 'n proefneming met ons en laat hulle vir ons net groente gee om te eet en water om te drink. Vergelyk dan ons voorkoms met dié van die jongmanne wat van die koning se kos eet, en handel dan met ons na bevind van sake.” Die amptenaar het toe hulle versoek toegestaan en tien dae lank 'n proefneming met hulle gemaak. Daniël 1:12-14

Daniël en sy gemeenskap is uit hulle eie land ontwortel en na 'n vreemde land gedeporteer. Hulle het hulle kultuur, hulle leefwyse en baie van hulle godsdienstige praktyke agtergelaat. God het egter hierdie situasie gebruik om lede van sy volk in invloedryke posisies te plaas.

Ons tref Daniël en sy drie vriende aan waar hulle in goeie regeringsposisies werksaam is. God het hulle daar geplaas, maar dit was nogtans moeilik om hulle werkgewer sowel as hulle God te eer. Daniël en sy drie vriende het nie op water en groente aangedring omdat hulle op een of ander gesondheidsdieet was nie, maar omdat die kos wat hulle nuwe baas voorsien het, teenstrydig was met die wet van God. Het hulle oorweeg om 'n kompromie aan te gaan of om net eenvoudig te rebelleer?

Ons weet egter hoe hulle gereageer het. Die vier kollegas het met respek 'n proeftydperk voorgestel waar hulle toegelaat sou word om volgens hulle oortuigings te eet. Hulle opsigter het ingestem—en die Here was getrou. Daniël, Sadrag Mesag en Abednego het met integriteit gewerk en die Here het hulle geseën.

Alhoewel ons almal seker meer groente kan eet (terwyl ek hier skryf is ek besig om pizza te eet), handel hierdie vers nie oor ons vyf groenteporsies per dag nie, maar wel oor die wyser wat Christus ons roep om te leef. Ons word ook omring deur verskillende waardes en etiek wat met mekaar in stryd is. Soms kan die druk by die werk, in die klaskamer of by die huis ons so oorweldig dat ons beginsels in gedrang kom. Ons het egter 'n identiteit wat ons in Christus ontvang het. Laat ons met toewyding en integriteit leef, getrou God se Woord gehoorsaam en Hom vertrou.

Gebed: Here, om U met integriteit te dien, is nie altyd maklik nie. En soms is die uitkoms selfs moeiliker as wat dit vir Daniël en sy vriende was. U het ons egter geroep om as u kinders te leef. Help ons asseblief om met integriteit te leef en te werk. Amen