Xanthe Hancox

Rut, die Moabitiese vrou, vra toe vir Naomi: “Mag ek lande toe gaan om are op te tel by iemand wat my toelaat om dit te doen?”Naomi antwoord haar: “Gaan gerus maar, my dogter.” Sy het toe geloop om in die land te gaan are optel agter die graansnyers aan. Sy het uitgekom by dié deel van die land wat behoort het aan Boas, die familielid van Elimelek.  Rut 2:2-3

Die optel van are agter die graansnyers was 'n antieke tradisie om te verseker dat niks van die oes vermors word nie, asook 'n manier om aan die armes kos te voorsien. Dit was so belangrik dat God 'n duidelike opdrag oor hierdie gebruik aan Israel gegee het. “Wanneer julle julle lande afoes, moet julle nie die wenakkers afoes nie en ook nie die are wat bly lê, agterna optel nie. Julle moet ook nie die wingerde 'n tweede keer oes of die korrels wat val, optel nie. Laat dit alles bly vir die armes en die vreemdelinge. Ek is die Here julle God." (Levitikus 19:9-10)

Net soos die geval vandag, beteken dit egter nie omdat 'n wet in plek was almal dit gehoorsaam het nie. Baie eienaars het die optel van are verbied, en diegene wat are kom optel het, is dikwels bespot, getreiter en selfs verbaal en fisies aangerand.

Rut sou bewus gewees het hiervan. Sy was 'n jong weduwee in 'n vreemde land en sy het geweet dat sy haarself in gevaar plaas deur na die lande toe te gaan om are te gaan optel.

Maar Boas was 'n regverdige man: hy respekteer sy werkers en hy gee erkenning aan Rut se goedhartigheid om by Naomi te bly en om vir haar are te kom optel. Boas gaan selfs verder as wat die wet van God vereis; hy gee vrylik uit sy oorvloed om Rut en Naomi te help.

Rut se soeke na kos, beklemtoon twee belangrike beginsels. Eerstens, God wil hê dat ons barmhartig moet wees. Daar is voorsien in die behoeftes van Rut en Naomi omdat die grondeienaar gehoorsaam was aan die opdrag van die Here om oortollige graan op die land te laat. Tweedens, die Here beloon diegene wat werk. In hierdie geval is Rut op 'n spesiale manier vir haar barmhartigheid, inisiatief, werksetiek en nederigheid deur die Here beloon. Dit maak nie saak in watter situasie ons ons bevind nie, of ons nou betaalde of onbetaalde werk verrig, ons moet goddelike beginsels volg.

Gebed: Here, waar ons ook al gaan of watter werk ons ook al doen, help ons om barmhartig teenoor ander te wees. Amen