Xanthe Hancox

Jesus het geweet dat die Vader alles in sy hande gegee het en dat Hy van God gekom het en na God teruggaan. Toe het Hy van die tafel af opgestaan, sy bokleed uitgetrek en 'n handdoek gevat en om Hom vasgemaak. Daarna het Hy water in 'n wasskottel gegooi en begin om sy dissipels se voete te was en dit dan af te droog met die handdoek wat Hy omgehad het.  Johannes 13:3-5

Wat is die belangrikste maaltyd wat jy elke jaar vier? Kersfees? Paastyd? Jou verjaarsdag? Vir baie Jode is die belangrikste maaltyd steeds die pasga. Dit is 'n viering van toe God Israel meer as 3 500 jaar gelede uit slawerny in Egipte bevry het.

Gedurende sy finale paasfees het Jesus die volle omvang van sy liefde op 'n baie ongewone manier aan sy volgelinge bewys. Hy het voor sy dissipels gekniel en elkeen se voete gewas. Dit is 'n nederige, selfs soms vernederende ervaring, wanneer iemand anders jou was. Verpleegsters weet hoe ongemaklik, maar wel belangrik, dit is om pasiënte te was wat dit nie self kan doen nie.

Petrus was baie ongemaklik met die idee dat Jesus sy voete was, en het eers beslis geweier: "U sal in alle ewigheid nooit my voete was nie!” (Johannes 13:8) Petrus het gedink hy sê die regte ding. Hy het nie gedink dat dit die regte ding is vir Jesus om soos 'n dienskneg teenoor hom op te tree nie. Hoe kan dit reg wees vir sy Here om so laag te daal?

Jesus het Petrus ook heftig geantwoord: “As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie.” Petrus moes homself verneder. Hy moes die vergifnis van sondes wat Jesus hom aanbied, ontvang.

Hoe berei jy jou voor om die belangrikste maaltyd van jou jaar, maand of week te vier?

Bedien jy ander met blydskap? Leef jy soos Jesus wat selfs voor sy verraaier gekniel het?

Gebed: Here Jesus, vul ons met u liefde. Wys ons hoe om ons naaste dien. Leer ons om voor ons vriende te kniel, en om hulle soos ons Meester te dien. Amen