Xanthe Hancox

Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.  Handelinge 2:46-47

Reg van die begin het Christene bymekaargekom om saam te eet en te vier. Die vroeë Kerk het formeel in die tempel vergader en informeel in mense se huise byeengekom. Hulle het met blydskap en opregtheid bymekaargekom, gevul met vreugde. Daar is gelag en gesing. En hulle het dit nie gedoen omdat hulle dit moes doen nie, maar uit verlange om saam met medegelowiges te wees.

Dit is ook belangrik om te onthou dat daar 'n risiko verbonde was aan die manier hoe hulle vergader het. Net 'n paar maande vroeër is Jesus wreedaardig gekruisig. Nou het sy volgelinge daagliks in die openbaar byeengekom onder die wakende oë van dieselfde godsdienstige leiers wat Jesus doodgemaak het. Dit was net 'n kwessie van tyd voor Petrus en Johannes (Handelinge 4) gearresteer is en Stefanus gestenig is (Handelinge 6 & 7).

'n Ware Christengemeenskap, toe en nou, is nie net 'n gier of 'n neiging nie. Dit is 'n blywende gemeenskap wat ten spyte van oorloë, hongersnood of wat ook al, voortduur. Die meeste van ons wat by Vers-'n-Dag ingeteken is, word nie vervolg soos die geval was met die vroeë Kerk nie, maar baie van ons Christengemeenskappe word ook bedreig.

Ons gaan nie Sondag kerk toe nie, of ons woon nie 'n selgroepbyeenkoms of Bybelstudie by nie, want ons is te besig, te moeg, die wasgoed hoop op of daar is iets anders wat ons eerder wil doen. Kom ons verbind ons aan ons Christengemeenskap – eet saam in blydskap en prys die Here.

Gebed: Vader, dankie dat U ons uitnooi om saam met U en met mekaar te eet. Vul ons harte en voed ons deur u Gees met die liggaam en bloed van ons Here Jesus Christus. Help ons om in ons gemeentes waarlik gemeenskap met mekaar te hê. Amen