Ewald Schmidt

“Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood.” Romeine 8:2

Waar begin ons lewe van geloof? Toe ek jonger was, het ek gedink die geloofspad bestaan uit 'n klomp “moenies”. Moenie rook/dans/drink/vloek en popmusiek luister nie. As ek mooi in my baan bly en my bes probeer om niks verkeerd te doen nie, behoort die Here darem so bietjie van my ook te hou. As jong gelowige was ek baie wetties – ek het deur die onderhou van 'n klomp meestal mensgemaakte reëls genade probeer verdien. Dit het ek gedoen met die hoop dat ek darem genoeg genadepunte sal verdien in die proses. Maar altyd was daar die skuldgevoelens – ek kry dit nie 100% reg nie! Die stryd in my gedagtewêreld was verskriklik gewees. Hoe kyk 'n tienerseun nou nie vir die mooi meisies nie?

Romeine help ons om die genade van God te ontdek. Romeine 3 verduidelik die plek van die Wet aan ons. Onder “Die Wet” het die Jode nie net die 10 Gebooie verstaan nie, maar die eerste vyf boeke van die Ou Testament. Veral Levitikus en Numeri het nogal baie wette, sommiges oor moeilike sake soos die besnydenis, die vier van die Joodse feeste, vergeldingsmaatreëls wanneer iemand oortree het. Die Wet is nie die sonde nie, sê Paulus, maar dit het ons kom leer wat sonde is. Die Wet se funksie was om ons te laat verstaan hoe dringend ons genade nodig het, genade wat ons nie kan verdien nie.

Die groot werk van die Heilige Gees is om ons na die Bron van Genade te wys. Hy kom stel ons aan Jesus voor. Romeine 3: 21 sê God se vryspraak kom nie deur die Wet te onderhou nie, maar deur in Jesus Christus te glo. Sonder dat ons dit kan verdien, word ons deur geloof in Jesus vrygespreek. Die wet van die Heilige Gees kom vertel van Jesus, en bring vir ons 'n nuwe lewe deur Hom. Dan help die Gees ons om soos nuwe mense te begin lewe. Ons leef anders, nie omdat ons genade probeer verdien nie, maar omdat ons Jesus ontmoet het. Ons leef nuut uit dankbaarheid vir ons verlossing.  Dit is die werk van God die Heilige Gees in ons.

Gebed: Here Jesus, dankie dat U my vry kom maak het. Ek kon nie self genade verdien nie. Maar U het my verlos. Dankie vir die nuwe lewe wat U deur die Heilige Gees vir my gegee het. Vorm my elke dag meer en meer na die beeld van Jesus. Amen