Ewald Schmidt

“Wat die wet nie by magte was om te doen nie, omdat dit weens ons sondige natuur te swak was, dit het God gedoen. Hy het met die sonde afgereken deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur; so het Hy die sonde in die sondige bestaan van die mens veroordeel.”  Romeine 8:3

Een van ons manne se grootste hindernisse is ons eie trots. Dit kan ons so onverwags bekruip. Ons moet mos altyd self regkom. In die dae voor GPS het ons nie maklik rigting gevra nie. Ons vra nie raad as ons komplekse probleme moet aanpak nie. As dit ‘n taak is wat fisiese krag vra, dan is ons eers sterk. Dikwels is dit waar ons seerkry.

Die Wet het vir ons ‘n koers aangedui in die lewe. Dit het vir ons bekend gemaak wat God se wil vir ons lewens is. Maar in eie krag kon ons dit nie regkry nie. Hoekom verwag God dan die onmoontlike van ons? Jesus het dit selfs nog erger gemaak toe Hy gesê het: “Wees dan volmaak soos julle Vader in die hemel volmaak is…” (Matteus 5:48) Is God dan onredelik om die onmoontlike van ons te verwag? Elke goeie menslike pa weet wat hier aan die gebeur is. ‘n Pa stel soms groot eise aan sy kinders. Wanneer die kind dit probeer uitvoer, kom hy of sy agter dat hulle nog nie sterk genoeg is om dit self reg te kry nie. Wanneer die kind sy tekortkominge besef, kry hy die geleentheid om sy pa se raad te vra. Met sy pa se hulp en krag word die taak afgehandel, en die kind leer ‘n nuwe vaardigheid in die proses. Groei en wysheid kom deur soms buite jou gemaksone gedruk te word.

Ons kan nie aan die eise van die Wet voldoen nie. My sondige natuur hou my terug. Ek wil so graag die regte ding doen, maar ek het nie al die krag en wysheid wat ek nodig het om altyd reg te kies nie. Ons Hemelse Vader weet dit! Psalm 103:14 sê Hy hou in gedagte dat ons stof is. Daarom het God aarde toe gekom om ons te help, toe die Vader sy Seun as mens gebore laat word het. Jesus het vir ons kom wys hoe God se liefde lyk. Hy het al ons sonde se skuld op Hom geneem. Omdat Hy een van ons geword het, kon Hy daarvoor betaal. Jesus het die straf vir al ons sonde op sy rekening geneem, en die volle prys daarvoor betaal. Wanneer ons Hemelse Vader dan van ons verwag om heilig te wees, onberispelik en sonder enige blaam, dan kan ons nie daarby uitkom nie. Maar Jesus kan, en Hy doen dit vir ons. Namens ons. As ek in Jesus glo, dan kan ek aan die eise van die Wet voldoen. Jesus het met die sonde afgereken – die rekening is ten volle vereffen.

Gebed: Here, dis nie maklik vir my om dit te erken nie, maar ek kan nie op my eie regkom nie. Ek is nie sterk genoeg om die swakheid van my eie mensheid te oorwin nie. Maar baie dankie dat U, Here Jesus, na hierdie wêreld toe gekom het om my te help. U maak my God se kind, U maak my vry van die sonde wat my van God weggehou het. Dankie Jesus! Amen.