Ewald Schmidt

“Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, óns wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees.”  Romeine 8:4

Dit is menslik om ‘n kansvatter te wees, en die grense van jou bestaan te toets. Maar dit is baie sleg om uitgevang te word terwyl jy besig is om iets verkeerds te doen. Dit is nogal vernederend as jy in die publiek uitgewys word vir ‘n oortreding wat jy begaan het. As die verkeersman jou voor almal aftrek.

Die koerante is weekliks vol van die verhale van mense wat uitgevang is terwyl hulle ‘n misdaad pleeg. Die stories kom in die hof uit, die gevolge kan vernietigend wees. Wanneer ek die baas van my lewe is, en doen wat ek wil, dan kry ander mense, en ekself dikwels baie seer. Die gevolge van ons sondige natuur is selfsugtige mense, wat vernietigend stoomroller deur die lewe. Al die misdaad en gebroke verhoudings van hierdie land getuig van mense wat buite God se grense opgetree het.

Daar is ‘n ander moontlikheid vir ons bestaan. Vers 4 begin met die woordjie “nou …”. In vers 3 het ons gelees dat Jesus namens ons gesterf het. Hy het die boete vir ons sonde reeds betaal. As Jesus Here van my lewe geword het, en ek my lewe in sy hande geplaas het, dan verander alles. Nou, na my ontmoeting met Jesus, volg ek Hom op my lewenspad as sy dissipel. Nou is EK nie meer die Koning van my lewe nie, Jesus is. Nou neem my sondige natuur my nie meer op sleeptou nie. Die Heilige Gees lei my op 'n nuwe pad, Hy maak my 'n nuwe mens, wat Jesus wil verheerlik deur my hele lewe.

Wat vra die Here van ons? Om uiteindelik alle wette op te som, het Jesus die aand voor sy kruisiging een wet gegee “Julle moet mekaar liefhê, soos Ek julle liefhet.” (Johannes 13:34) Mense wat liefhet soos Jesus bring lewe rondom hulle. Hulle bou hulle naaste op deur woorde en dade van liefde. Hulle stel hulle naaste se belange bo hulle eie. As jy jou naaste liefhet, hoe sal jy dit regkry om hom of haar dood te maak, seksueel te misbruik, te steel van hulle? Die Gees van God lei ons om met Jesus se oë na ander te kyk, en geloof gaan oor in dade van hulp. So word God se liefde sigbaar in die manier waarop sy kinders lewe. Dit is die werk wat God die Heilige Gees in ons lewe wil doen.

Gebed: Here, my sondige natuur wil my op die pad van die dood lei. U Gees lei my op die pad na die lewe. Here, ek kies eerder om u pad te stap as myne! Lei my, Gees van God! Amen