Ewald Schmidt

“Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op die dood, maar die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede. Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, is immers vyandskap teen God. Die sondige natuur onderwerp hom nie aan die wet van God nie, dit kan trouens ook nie.”  Romeine 8:6-7

Ek het een aand verdwaal na ‘n huisbesoek op ‘n plaas. Ek het met ‘n klein motortjie gery, en in die donker op die boer se 4x4-roete beland. Terwyl ek nou van uitdagings hou het ek maar aangery op hierdie pad, en dit het gevoel of alles heel goed verloop. Ek was beïndruk met my bestuursvaardighede – kyk watter pad het ek oorwin! My vreugde het gehou tot ek my motortjie die volgende oggend in die lig aanskou het. Die voertuigie was toe nie ontwerp vir sulke behandeling nie. Daardie pad het hom lelik verniel, al het ek dit so geniet.

Ek en jy is op reis op ons lewenspad. Die vraag is nie watter paaie ons in staat is om te bestuur nie. Nee, die vraag is eerder vir watter pad ons lewens ontwerp is. Paulus vertel van die pad van ons sondige natuur. Dit is die pad waarop ons gebore is. Ek is die bestuurder, ek trap graag die petrol en selde die rem. Dit mag heel aanvaarbaar voel op daardie stadium. Maar wanneer die lig op my lewe val, dan sien ek eers die skade wat ek aangerig het. Die sondige natuur van die mens maak dat ons onsself eerste stel, en ons eie behoeftes najaag. Ons gee onsself maklik oor aan alles wat lekker is. Omdat ons buite God se grense lewe op hierdie pad, is die eindbestemming die dood. Sonder dat mense dit agterkom, is hierdie pad besig om alles te vernietig wat vir hulle kosbaar is.

Die alternatief is om deur die Gees van God gelei te word op ons lewenspad. Dan lewe ons vir dit waarvoor die Here ons gemaak het. Ons lewe word gekenmerk deur goeie verhoudings, met God, met my naaste, en ek ervaar vrede met myself. Die pad van die Heilige Gees bring vir ons lewe, en vrede. Die reis is opwindend, en die eindbestemming hou geen vrees in nie, maar bring hoop.

Watter pad kies ek om te volg in die lewe? Vir watter pad het die Here my ontwerp?

Gebed: Here, ek mag dalk die pad van my sondige natuur baie geniet. Ek mag dalk baie tyd spandeer om my eie begeertes en behoeftes na te jaag. Maar hierdie pad is dodelik vir myself, en vir die verhoudinge waarvoor U my gemaak het. Heilige Gees, neem beheer van my lewe, en stuur my terug na die pad wat die Here vir my uitgelê het. Help my om vandag die pad van lewe en vrede te bewandel. Amen